Skip to main content
US se Konvokasie moet drie raadslede verkies; vierde lid later

US se Konvokasie moet drie raadslede verkies; vierde lid later

Korporatiewe Bemarking/Corporate Marketing
02 Februarie 2016

Die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) kan binnekort uit 12 genomineerde kandidate vir nuwe Raadslede stem. Die ampstermyn van drie raadslede deur die Konvokasie verkies, verstryk op 1 April 2016, terwyl een raadslid bedank het.

Mnr Jannie Durand, wat tans in die Raad dien en homself weer as donateurskandidaat verkiesbaar gestel het, is onbestrede deur die US se donateurs as Raadslid herkies nadat daar slegs een nominasie was. Hy is sedert 2012 die hoof uitvoerende beampte van Remgro Beperk.

Die Universiteit het aanvanklik berig dat vier raadslede nou verkies moet word en dat die kandidaat wat tydens die verkiesingsproses die vierde meeste stemme verwerf, slegs vir ʼn termyn van twee jaar dien in die vakature van die Raadslid wat bedank het. Dit is op grond van die Statuut van die US wat bepaal dat die aangewese persoon slegs die res van die termyn van die raadslid wat bedank het, kan uitdien.

Op grond van regsadvies wat die US ingewin het wat verband hou met die kennisgewingstydperk van dié vakature, is daar besluit om die proses vir die verkiesing van ʼn Raadslid in die plek van dr George du Toit, wat uit die Raad bedank het aangesien hy vanjaar as student by die US ingeskryf is, uit te stel. Dit sal as ʼn aparte proses hanteer word na afloop van die huidige verkiesing en daar sal weer kandidate genomineer kan word.

Die ampstermyn van die Raadslede deur die Konvokasie verkies wie se termyne nou verstryk, is dr Koos Bekker, prof Prieur du Plessis en mnr Piet le Roux verstryk.

Die kandidate vir die poste van raadslede waaruit lede van die Konvokasie drie persone moet aanwys, is:

  • Mnr Job Amupanda, ʼn akademikus verbonde aan die Universiteit van Namibië;
  • Prof André Coetzee, afgetrede akademikus van die US 
  • Prof Prieur du Plessis, dienende raadslid en direkteur van maatskappye;
  • Prof Loretta Feris, akademikus  van die Universiteit van Kaapstad;
  • Mnr Heinrich Gonzales, toegelate prokureur in diens van AfriForum;
  • Prof Joan Hambidge, akademikus van die Universiteit van Kaapstad;
  • Adv Jan Heunis, senior advokaat;
  • Dr Jerry Mameja, stigter en voorsitter van die Otesa Groep;
  • Me Ronalda Nalumango, proporsionele raadslid van die Stellenbosch Munisipaliteit;
  • Dr Corinne Oosthuizen, kliniese sielkundige en konsultant;
  • Mnr Chris Otto, sakeman en direkteur van die PSG Groep;
  • Me Bettina Wyngaard, skrywer en prokureur.

Lede van die Konvokasie kan van 26 Februarie 2016 tot 10 Maart 2016 om 12:00 hul stemme vir die genomineerde kandidate per gewone posstem, per faks of elektroniese stemming uitbring. Stemgeregtigdes op die US se databasis wat nie e-posadresse verskaf het nie, sal inligting oor die kandidate en ʼn stembrief per pos ontvang en die res sal die inligting en stemopsies per e-pos ontvang.

  • Rig navrae aan mnr Johann Aspeling of me Alfreda Coetzee by tel 021 808-4910 of per e-pos by [email protected] en klik hier vir inligting oor die verkiesingsproses