Skip to main content
US se HortiDemoSentrum vier een jaar met koninklike besoek

US se HortiDemoSentrum vier een jaar met koninklike besoek

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
25 Oktober 2023

​Presies 'n jaar nadat die Universiteit Stellenbosch (US) se HortiDemoSentrum​ by die Welgevallen-proefplaas geopen is, het 'n groot eer die studente en personeel by die sentrum te beurt geval toe hulle koningin Máxima van Nederland daar verwelkom het.

Die Nederlandse koninklike egpaar het verlede week drie dae in Suid-Afrika op 'n staatsbesoek saam met hul ministeriële afvaardiging asook verteenwoordigers van 25 universiteite en akademiese instellings van Nederland deurgebring. Die besoek – die tweede van die Nederlandse monarg sedert koningin Beatrix die land in 1996 op uitnodiging van president Nelson Mandela besoek het – het amptelike samesprekings by die Uniegebou in Pretoria en besoeke aan kulturele en geskiedkundige bakens in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad ingesluit.

As 'n samewerkingsprojek wat Nederlandse innovasie binne 'n Suid-Afrikaanse konteks ten toon stel, was die US se HortiDemoSentrum 'n belangrike laaste stop op die koninklikes se besoek. 'n Konsortium bestaande uit ses Nederlandse maatskappye (Delphy, Koppert, Rijk Zwaan, De Ridder, ControlUnion en Swenson), 'n Suid-Afrikaanse maatskappy (Greener Solutions) en die US het meer as 900 000 euro (R16 miljoen in 2022) ontvang om hierdie projek van stapel te stuur.

Prof Hester Klopper, die US se Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, prof Danie Brink, Dekaan: AgriWetenskappe, en dr Estelle Kempen, dosent en projekbestuurder van die HortiDemoSentrum, het koningin Máxima en haar afvaardiging by Welgevallen verwelkom. Klopper het erkenning gegee aan die US se sterk vennootskap met “ten minste 14" akademiese instellings in Nederland.

Die koningin het 'n uur lank met US-studente en -personeel oor klimaatbeheer en plaagbestuur gesels. MSc-student Jancke van Wyk het gesê die sentrum bied aan studente die geleentheid om meer oor volhoubare en klimaatslim agronomie te leer. Anders as Nederland, waar die fokus op verwarmingstegnologie sou wees, is die HortiDemoSentrum ontwerp om in Suid-Afrikaanse toestande met 'n Mediterreense klimaat te funksioneer, het sy verduidelik. Die kweekhuis is ten volle outomaties en heeltemal onder klimaatbeheer. Van Wyk het ook die koningin ingelig oor hulle planne om sonpanele te installeer sodat die sentrum nie meer van kragopwekkers afhanklik hoef te wees nie. Adaduma Msana, 'n NGDip-student en tegniese assistent by die sentrum, het aan die koningin verduidelik hoe die sentrum sy kunsmis en water hergebruik en hoe slim tegnologie aangewend word om die klimaat binne die kweekhuis te beheer.

Geklee in 'n beskermende jas, het koningin Máxima daarna binne-in die kweekhuis met studente en jong boere oor gewasgesondheidsbestuur gesels. 'n Intern, Kholosa Nakani, wat verlede jaar 'n nagraadse diploma in agronomie voltooi het, het verduidelik hoe die span geïntegreerde plaagbestuurstrategieë kombineer om gewasgesondheidsbestuur te verseker. Haar Majesteit het toe met opkomende boere in die omgewing en verteenwoordigers van die Boereproduksie-ondersteuningseenheid (FPSU) vergader. Hierdie eenheid dien as 'n landbou-opleidings- en produksiesentrum in die gebied. Joe Barends, hoof van FPSU, het 'n voorstel aan die koningin oorhandig wat die eenheid se planne uiteensit om die model in ander distrikte te dupliseer.

Koningin Máxima het in nabetragting oor haar toer deur die sentrum gesê: “Dit is een ding om van hierdie goed te hoor, maar 'n heel ander saak om dit met jou eie oë te sien."​

Foto: Stefan Els