Skip to main content
US Regskliniek: Skikking in Paralimpiese atleet se toegang-saak verwelkom

US Regskliniek: Skikking in Paralimpiese atleet se toegang-saak verwelkom

Theo Broodryk, Law Clinic
01 Oktober 2018

Die uitkoms van die regsgeding waarin ʼn skikking bereik is tussen die Suid-Afrikaanse Paralimpiese atleet, Hendri Herbst, en ʼn welbekende Kaapse wynlandgoed, is nie net ʼn oorwinning vir siggestremde persone nie, maar dra ook in hoë mate by tot die bewusmaking oor die reg van persone met gestremdhede om nie teen gediskrimineer te word nie.

Dít is die mening van Dr. Theo Broodryk, Hoof van die Regskliniek by Universiteit Stellenbosch. Die Regskliniek het onlangs namens Herbst 'n regsgeding in die Gelykheidshof geloods. Die betrokke wynlandgoed het erken dat daar wel teen Herbst in 2014 gediskrimineer is, terwyl toegang tot hul restaurant geweier is as gevolg van Herbst se gidshond.

In terme van die skikkingsooreenkoms, wat 'n bevel van die Gelykheidshof op 26 September 2018 gemaak is, sal Durbanville Hills ʼn openbare verskoning uitreik waarin hulle diskriminasie teen Herbst erken en onderneem om stappe in plek te stel wat verseker dat alle werknemers van Durbanville Hills sensitiwiteitsopleiding sal ontvang, aangebied deur die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging. Verder sal Durbanville Hills R 50 000 aan die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging bydrae vir die doeleindes van ʼn mediaveldtog sodat bewustheid rakende gidshonde verhoog kan word. Daarmee saam sal Durbanville Hills R 50 000 aan Mnr. Herbst as kompensasie betaal.

“Die stappe ingestel deur Durbanville Hills word verwelkom en dra by tot die bewustheid oor die reg van persone met gestremdhede om nie teen gediskrimineer word nie. Die uitkoms van hierdie saak moet ook as ernstige waarskuwing dien, naamlik dat diskriminerende optrede teen kwesbare individue, soos Herbst, nie geduld sal word nie".

  • Die US Regskliniek het onlangs die Prestasietoekenning van die Korporatiewe Regsadviseursvereniging van Suid-Afrika (CCASA) ontvang. Die toekenning erken buitengewone prestasies van regslui on Afrika.