Skip to main content
US Regskliniek een van Afrika se mees toonaangewende regsfirmas

US Regskliniek een van Afrika se mees toonaangewende regsfirmas

Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
20 Julie 2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Regskliniek is ʼn finalis in die 2018 African Legal Awards-kompetisie (oftewel die Afrika Regstoekennings) waar dit in die kategorie 'Spesialis Regsfirma van die Jaar' sal meeding. Die Regskliniek is die eerste universiteitsregskliniek om vir hierdie gesogte toekenning gekortlys te word.

Die ander finaliste is top regsfirmas soos Allen & Overy, Webber Wentzel, DLA Piper, Bowmans en Spoor & Fisher. Laasgenoemde het die toekenning in 2017 gewen.

Die Afrika Regstoekennings erken buitengewone prestasies, uitnemendheid en innovering in die regsberoep in Afrika.

Die geleentheid sal deur Legal Week - die organiseerders van die British Legal Awards en die Corporate Counsel Association of South Africa (CCASA - die Korporatiewe ​Regsadviseurs-vereniging van Suid-​​Afrika) aangebied word. Die toekenningseremonie sal regslui regoor Afrika op Vrydag 7 September 2018 by die Wanderers Club, Johannesburg byeenbring.​

“Om op die kortlys te wees, is ʼn uitsonderlike prestasie vir die Regskliniek omdat regsdienste slegs een komponent van ons werksaamhede is. Tog plaas die gehalte van die dienste wat ons bied ons op gelyke voet met die beste regsfirmas in die land," het dr Theo Broodryk, hoof van die US se Regskliniek, gesê.

“Spesialis regsfirmas word oor die algemeen beskou as firmas wat spesialiseer in ʼn spesifieke spesialisgebied soos grondwetlike reg, intellektuele eiendomsreg, ensovoorts," het hy verduidelik.​

Die US se Regskliniek is betrokke by wesenlike regsimpak-aangeleenthede, soos potensiële presedentskeppende diskriminasie-litigasie en voorstelle vir tampontaks. Dit word erken as 'n leier op die verskillende gebiede waarin dit werksaam is.

Die wenner van die jaarlikse CCASA Prestasietoekenning, sal ook by die seremonie op 7 September aangekondig word. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het die toekenning in 2017 ontvang.

  • Besoek www.sulawclinic.co.za vir meer inligting oor die US Regskliniek of skakel met dr Theo Broodryk by 074 209 6824. ​