
US Opedag 2016
Die jaarlikse Maties Opedag is om die draai. Op Saterdag 27 Februarie vanaf 08:30 tot 16:00 kan voornemende studente die Universiteit Stellenbosch (US) se Stellenbosch en Tygerberg Kampus besoek om alles uit te vind oor studentwees in Matieland.
Die Maties Opedag word beskou as die ideale geleentheid vir Graad 11 en 12-leerders om waardevolle inligting te bekom oor universiteitstudie, loopbaankeuses, beurse en lenings; studentegelde; koshuisplasing, sportgeleenthede, akkommodasie, verenigings, die studentelewe en vele meer.
"Wat die Opedag so spesiaal maak is dat voornemende studente en hul ouers direk met fakulteitspersoneel en verteenwoordigers van die verskeie steundienste gesels om presies op hoogte te kom van wat die onderskeie studierigtings behels en die ondersteuning wat die Universiteit aan sy studente bied," vertel me Magdel Pretorius, projekkoördineerder en adviseur by die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies (SSW).
Voornemende studente en hul ouers of onderwysers word versoek om eers by die verwelkomingstent voor die Konservatorium op die hoek van Victoria en Neethlingstraat te begin waar hulle inligtingspakkies sal kry.