
US nooi belanghebbers om insette te lewer oor nuwe konsep-Statuut
Die Universiteit Stellenbosch (US) het pas die eerste weergawe van ʼn nuwe konsep-Statuut vir ʼn interne en openbare konsultasieproses bekendgestel. Die Statuut is die grondwet van die Universiteit Stellenbosch. Dit verskaf die institusionele raamwerk vir die effektiewe oorsigbestuur en administrasie van die instelling, en omskryf die grondliggende strukture en prosesse waarbinne die waardes, ideale en beginsels van die Universiteit nagestreef word.
In ʼn veranderende hoëronderwyssektor was dit nodig om die Statuut grondig te hersien, en het die Universiteitsraad op 26 September 2016 daarvoor toestemming gegee. Die Raad het ʼn taakspan saamgestel wat in samewerking met regskundiges, en na aanleiding van rigtinggewende insette van die Raad en die Uitvoerende Komitee van die Raad, en insette verkry deur ʼn reeks werkswinkels, die eerste konsep-dokument opgestel het.
Die taakspan se oogmerk was om ʼn logiese, akkurate en regsgeldige, maar toeganklike dokument op te stel in eenvoudige taal en styl.
Intern word die dokument in die volgende maand vir oorweging en kommentaar by fakulteitsraadsvergaderings en ander interne universiteitsliggame voorgelê terwyl eksterne belanghebbers en lede van die publiek ook genooi word om insette te lewer.
Die sluitingsdatum vir kommentaar is 28 Mei 2018 en insette kan gestuur word na: [email protected].
Volgens die beplanningstydlyn sal die finale konsep-Statuut in November 2018 vir goedkeuring aan die Raad voorgelê word.