
US-navorsers help ruimterommel verwyder
Navosers aan die Universiteit Stellenbosch werk saam met hul Europese eweknieë om ruimterommel uit wentelbane om die aarde te verwyder.
Die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese se Satelietsnavorsingsgroep, onder leiding van prof Herman Steyn, en die afwentelmaatskappy CubeSpace wat deur Innovus ontwikkel is, is betrokke by ʼn Europese projek genaamd RemoveDEBRIS. Dié projek, wat in November 2013 begin is, wil wys hoe nuwe aktiewe rommelverwyderingstegnologie teen middel 2017 in die ruimte werk. Dit is ook daarop gemik om rommel te versamel, te ontwentel en dan in die aarde se atmosfeer te laat uitbrand.
Die Satelietnavorsingsgroep en CubeSpace het reeds die vliegkontrolesisteem vir twee nanosateliete (CubeSats) ontwerp en verskaf. Die nanosateliete, DebrisSAT-1 and DebrisSAT-2, sal as rommel dien wat verwyder moet word. ʼn Moedermikrosateliet, genaamd RemoveSAT, sal hierdie twee ruimterommelteikens lanseer, vasvang en dan ontwentel.
Volgens Steyn sal die eerste nanosateliet vanaf RemoveSAT gelanseer word om ʼn balon op te blaas ten einde ʼn groter teikengebied te verskaf. ʼn Net word dan vanuit RemoveSAT in die rigting van die nanosateliet met die balon vrygestel en wanneer dit sy teiken bereik sal verskeie ontplooïingsmeganismes aan die einde van die net rondom te teiken vou.

"Hierdie eksperiment sal toon dat die gebruik van ʼn net om ruimterommel te vang ʼn praktiese rommelverwyderingsmetode vir die toekoms is," sê Steyn.
Die tweede nanosateliet, wat op dieselfde wyse gelanseer sal word, sal sy sonpanele ontplooi en met behulp van die Satelietnavorsingsgroep se oriëntasiebeheerstelsel ʼn reeks bewegings uitvoer terwyl dit weg van die moedersateliet dryf.
"Die visueel-gebaseerde navigasie eksperiment (insluitend ʼn kamera en laser-afstandopspoorder) sal gebruik word om data en beelde van rommel te versamel wat later verwerk sal word."
Steyn sê tegnologie om aktiewe rommel te verwyder is belangrik omdat "die hoeveelheid en digtheid van skadelike ruimterommel soos vuurpylstukke en sateliete in wentelbane om die aarde moontlik in die toekoms kan toeneem."
"Hierdie dien as massiewe opgaarplekke en het die potensiaal om duisende gevaarlike fragmente vry te stel indien hulle in ʼn katastrofiese botsing met ʼn ander objek betrokke sou wees. Hulle het ook die potensiaal om toekomstige ruimte-operasies nadelig te raak."
Die RemoveDEBRIS-projek kan ʼn belangrike rol speel om nuwe tegnologie te toets ten einde so iets te verhoed, sê Steyn.
- Foto 1: Ruimterommel wentel om die aarde.
- Foto 2: Die eksperimentele net wat gebruik word om DebrisSAT-1 te vang.