Skip to main content
US-navorsers deel van historiese Antarktiese ekspedisie

US-navorsers deel van historiese Antarktiese ekspedisie

Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
24 Maart 2022

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) geniet nog die roem daarvan om deel te kon wees van die ekspedisiespan wat onlangs geskiedenis gemaak het toe hulle die wrak van die Endurance, die verlore skip van die bekende poolreisiger, Sir Ernest Shackleton, ontdek het wat meer as 'n eeu gelede in die Weddell-see gesink het. 

Shackleton en sy span het in 1915 vertrek om die eerste ekspedisie te word om Antarktika van die Weddell-see af via die Suidpool oor te steek. Die Endurance het egter nooit weer land bereik nie nadat dit in digte pakys vasgeval en uiteindelik gesink het. Die 28 bemanningslede aan boord kon daarin slaag om die skeepswrak te voet en in reddingsbote te ontkom. 

Die Endurance is op 'n diepte van 3 008 meter in die Weddell-see gevind binne die soekgebied wat deur ekspedisiespan bepaal is vóór hul vertrek uit Kaapstad. Dit was ook sowat vier myl suid van die posisie wat oorspronklik deur die Endurance se kaptein, Frank Worsley, aangeteken is. 

Mensun Bound, ontginningsdirekteur van die ekspedisie wat deur die Falklandse Maritieme Erfenistrust befonds is, het die vonds as die “beste hout skeepswrak wat ek nog ooit gesien het – regop en trots op die seebodem, ongeskonde en in 'n uitsonderlike toestand van preservering" beskryf. 

Die skip is 100 jaar ná Shackleton se afsterwe in 1922 ontdek. 

Die US-afvaardiging – wat uit prof Annie Bekker, hoof van die Klank- en Vibrasienavorsingsgroep in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, en twee nagraadse ingenieurstudente, James-John Matthee en Ben Steyn, bestaan het – was lid van 'n span van meer as 65 wetenskaplikes en ontdekkers wat twee maande gelede aan boord van die SA Agulhas II uit Kaapstad vertrek het op hul tog om na die Endurance te soek. 

Die US-span het saam met verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, die Duitse firma, Drift & Noise, Duitsland se Alfred-Wegener-instituut, die Duitse Ruimtesentrum (DLR) en die Aalto-universiteit in Finland uiters belangrike logistieke ondersteuning verskaf om die wrak van die Endurance in die ontoeganklike Weddell-see-omgewing op te spoor en te ondersoek. 

Bekker het die volgende te sê gehad oor hul ervaring: “Ek fokus reeds sedert 2012 in my navorsing op die SA Agulhas II. Ek was by haar eerste ysproeflopies in die Baltiese See betrokke waar sy deur STX Finland in Rauma gebou is. Toe was sy nog splinternuut. Die afgelope tien jaar het meer as 30 navorsers en medewerkers van die Klank- en Vibrasienavorsingsgroep aan navorsingsvaarte op die skip deelgeneem. Dit slaan my asem weg om te dink ek was aan boord vir hierdie hoogtepunt in haar diensleeftyd met die ontdekking van die Endurance. Ek sal altyd die vreugde en ongeloof van daardie oomblik onthou toe ek die perfekte brons letters, “Endurance", met die vyfpuntster wat in 'n pragtoestand op haar agterstewe behoue gebly het, vir die eerste keer gesien het. 

Volgens Bekker was die soekgebied van die Endurance in 'n gebied geleë waar die see heeltemal met ys bedek word en was kennis oor die strekking van die ys en bedrewe navigasie noodsaaklik om 'n suksesvolle soektog uit te voer. 

“Hierdie (ervaring) was 'n ongelooflike geleentheid vir ons om meer te leer oor satelliet- en radarprodukte en om taktiese navigasiebesluite deur die AMSOL-span (African Marine Solutions) onder leiding van kaptein Knowledge Bengu en ons yspiloot, kaptein Freddie Ligthelm, gade te slaan." 

Nog 'n hoogtepunt was 'n kort besoek aan Suid-Georgia-eiland om hulde te bring aan Shackleton by sy graf. 

“Die ekspedisiespan het 'n kort gedenkdiens gehou ná 'n wonderlike staptog langs die strand deur pelsrobbe en koningpikkewyne," het Bekker gesê. “Ons het foto's van die skeepswrak op die grafsteen geplaas. Hierdie spesiale geleentheid – en die pragtige omgewing op Suid-Georgia-eiland – was 'n gepaste afsluiting van ons ongelooflike reis." 

Matthee sê hy beskou dit as 'n eer “om my tone in die waters van geskiedenis te kon steek waar ek die teenwoordigheid van mense wat geleef het vir eksplorasie en om nuwe dinge te ontdek, kon aanvoel". 

“Om in die voetspore van een van die grootste ontdekkers van die vorige eeu te stap (en te vaar) het my laat besef hoe noodsaaklik dit is om altyd verder as die grense van wat ons dink ons weet, te strek. Ek wil beslis hierdie weetgierigheid nie net op my professionele loopbaan nie, maar ook op my persoonlike lewe toepas," sê hy. 

Steyn sê die ontdekking en die skeepsreis het hom herinner aan die rede waarom hy ingenieurswese as vakgebied gekies – om probleme op te los. 

“Alles verloop nie altyd volgens plan nie, en dit was ook op hierdie reis die geval. Wanneer daar egter probleme was, was dit ongelooflik om te sien hoe mense uit verskillende beroepe saamstaan om met innoverende idees vorendag te kom om oplossings te vind. Ek het so baie by almal op hierdie reis geleer en sal beslis hierdie ervaring en kennis in my ingenieursloopbaan gebruik." 

Hy erken hy geniet die roem wat hom eweskielik toegeval het. 

“Ek dink elkeen wat aan boord was, het 'n bietjie bekendheid verwerf omdat hulle deel was van hierdie ekspedisie. Jou naam word nie net regoor sosiale media versprei nie, maar skielik word jy ook oorval met boodskappe van ou vriende en kennisse." 

Die Endurance word ingevolge die Antarktiese Verdrag as 'n geskiedkundige terrein en monument beskerm. Dit beteken dat hoewel die wrak ondersoek en verfilm kan word, niks enigsins aangeraak of versteur mag word nie.