Skip to main content
US 'n toonaangewende onderwysinstelling wat inklusief uitreik  - Rektor by Eeufees Galadinee

US 'n toonaangewende onderwysinstelling wat inklusief uitreik - Rektor by Eeufees Galadinee

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
25 Maart 2018

“Die Universiteit Stellenbosch het ʼn toonaangewende hoër-onderwysinstelling geword wat ʼn belangrike bydrae tot menslike ontwikkeling in ons land, op ons vasteland en in die res van die wêreld maak. Ons gegradueerdes is goed gekwalifiseerd en hulle is internasionaal in aanvraag, ons navorsing is innoverend en relevant en ons impak op die samelewing is omvattend. Dit alles doen ons deur inklusief uit te reik, nie deur na binne te kyk nie." 

Só het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) gesê tydens die US se glansryke Eeufeesherdenkingsdinee wat Vrydag 23 Maart 2018 gehou is.

Benewens me Helen Zille, Premier van die Wes-Kaap en die Uitvoerende Burgemeester van Stellenbosch, adv Gesie van Deventer, het eregraadontvangers, parlementslede, raadslede, skoolhoofde, studenteleiers, donateurs, vriende van die Universiteit en lede van die media die geleentheid in die Paul Roos-saal op Stellenbosch bygewoon.

“Ons eeufeesjaar is die ideale geleentheid om te kyk na ons reis tot hier en vorentoe te kyk na wat voorlê. Dit is ʼn geleentheid om te bou op ons prestasies van die verlede, om ons foute reg te stel en weer te begin.

Die US blink uit op talle terreine, het De Villiers gesê: “Ons het die afgelope akademiese jaar nogmaals rekordgetalle kwalifikasies toegeken. Ons handhaaf hoë navorsingsuitsette, en ons maak ʼn groot impak op die samelewing. Ons vaar goed op internasionale ranglyste. En ons beleef relatiewe stabiliteit ondanks die onstuimigheid in die hoëronderwys die afgelope paar jaar. Ook ten opsigte van ons volhoubaarheid as instelling, is dit gerusstellend dat ons begroting klop, en dat ons byhou met fasiliteite."

Maar, het hy bygevoeg, “ons staar ons egter nie blind teen ons foute nie. In die konteks van ons land se verdeelde geskiedenis, erken die US sy aandeel in die onregte van die verlede. Daaroor het ons diepe berou. Ons vra diegene wat te na gekom is, opreg om verskoning. En ons gee erkenning aan die kritiese stemme in eie geledere wat beginselvas standpunt ingeneem het, hoe moeilik ook al."

Hy het bygevoeg dat die US na groter diversiteit in terme van beide personeel en studente-samestelling streef. “Ons werk hard daaraan om te verseker dat ons institusionele kultuur toenemend verwelkomend word. En ons hernu deurlopend ons akademiese aanbied om relevant in ons konteks te wees."

US bly verbind tot meertaligheid

De Villiers het hom duidelik uitgespreek oor Afrikaans. “Daar bestaan ʼn wanopvatting dat die US die ondergang van Afrikaans bewerkstellig. Die teendeel is waar. Afrikaans is een van ons onderrigtale – maar om grondige pedagogiese redes, nie aangevuur deur ideologie of etniese identiteit nie.

“Party mense is bang dat ons gebruik van Afrikaans diegene kan uitsluit wat verkies om in Engels te studeer; ander vrees weer dat ons gebruik van Engels Afrikaans benadeel. Ek wil u graag verseker dat die Universiteit verbind bly tot meertaligheid sonder uitsluiting. Taal behoort nooit vir enige student 'n hindernis te wees nie. Deur ook Engels as onderrigtaal te gebruik, sorg ons dat ons toeganklik is vir meer mense, en dit maak deure oop – plaaslik en internasionaal. Tog is daar steeds ʼn groot behoefte aan en vraag na onderrig in Afrikaans; daarom sit ons ons aanbod daarin voort."

ʼn Wêreldklas universiteit in en vir Afrika

Oor die toekoms het De Villiers gesê die US se huidige rigtinggewende raamwerk, die Institusionele Voorneme en Strategie, vanjaar uitloop en dat daar hard gebeitel word aan die boustene van ʼn nuwe raamwerk. “Elemente hiervan is die US as ʼn wêreldklas universiteit in en vir Afrika, ʼn instelling met ʼn onberispelike reputasie wat die hele samelewing met innoverende kennis dien wat interdissiplinêr en samewerkend van aard is. “Ons wil akademies uitnemend wees, help soek na oplossings vir samelewingsprobleme, en entrepreneurskap bevorder. Ons wil sterk vennootskappe met ander hoër onderwysinrigtings, met die burgerlike samelewing, met die sakesektor en met die staat op verskillende vlakke handhaaf, maar deurlopend ons akademiese vryheid beskerm. Ons wil ʼn plek wees waar mense graag wil kom werk en studeer en nie graag wil weggaan nie – omdat ons mooi kyk na ons mense en hulle help ontwikkel. Ons wil ligvoets op hierdie aarde beweeg en die omgewing beskerm en omdat ons al hierdie dinge vir 'n lang tyd wil doen, wil ons ons volhoubaarheid versorg sonder om ons onpartydigheid en onafhanklikheid in die gedrang te bring.

Stanford van Suid-Afrika

By die geleentheid het die Wes-Kaapse premier, me Helen Zille, gesê dat leidinggewende universiteite regoor die wêreld ekosisteme skep wat tot soveel meer kan lei. Alhoewel Stellenbosch internasionaal onder toeriste bekend is vir sy wyn, studente en sport, dit 'n ongelooflike ekosisteem is met intellektuele diepte en goeie navorsing, waarin innovasie entrepreneurs lok, investering aantreklik gemaak word; dit ekonomiese groei en nuwe idees dryf, dit talent in die land hou en talent terug van oorsee trek en toestande skep vir ons land om te slaag.

“Vir my is Stellenbosch die Stanford van Suid-Afrika, wat 'n ekosisteem skep waarin denkleiers en dinamiese entrepreneurs kan floreer as gevolg van die oorwig van intellektuele krag en idees."

'n Universite met gravitas

Adv Gesie van Deventer, Uitvoerende Burgemeester van Stellenbosch, het in haar gelukwensingsboodskap gesê dat die Universiteit gravitas het en vertroue inboesem. “Julle verdien hierdie beskrywing aangesien julle wêreldwyd bekend is as 'n wonderlike instelling. Ons is so trots daarop om julle in ons pragtige dorp te hê."  

Alhoewel die Universiteit 'n 100 jaar oud is, het dit daarin geslaag om 'n jeugdige, dinamiese, ewige vernuwende en innoverende instelling te word. Meer belangrik, is dat die Universiteit met rasse skrede tot transformasie van die land bygedra het," het sy gesê.