US Internasionaal Somer/Winterskool-program weer verrykend en vermaaklik
“Om nuwe mense te ontmoet, ontvanklik te wees vir nuwe idees, en hope pret te hê." Dít is wat Mira Janna Pichai van die Universiteit van Clemson in Suid-Carolina, Verenigde State, van die Universiteit Stellenbosch (US) Somer/Winterskool 2019 verwag. En sy sal nie teleurgesteld wees nie. Met meer as 100 studentedeelnemers van 15 lande bied hierdie jaarlikse geleentheid gedurende die Junie/Julie-universiteitsreses 'n opwindende program propvol diverse leergeleenthede.
Die Somer/Winterskool, wat deur US Internasionaal aangebied word, beoog om sowel internasionale as plaaslike studente 'n transformerende studente-ervaring te bied, en terselfdertyd internasionalisering tuis aan te moedig. Vir dié doel sluit die program klasse oor verskeie tersaaklike onderwerpe in, sowel as sosiale geleenthede om deelnemers geleentheid te bied om met eweknieë uit ander wêrelddele te gesels. Hierdie interkulturele ervaring verryk studente se lewens en help rus hulle toe as wêreldburgers vir die toekoms.
Die akademiese program bestaan uit lesings, groepbesprekings en veldwerktoere, en word deur US-personeellede en ander Suid-Afrikaanse kenners aangebied. Studente volg 'n algemene keuseprogram met 'n wye verskeidenheid dissiplines om uit te kies, waaronder Filosofie, Ingenieurswese, Plantkunde, Politieke Wetenskap, Ekonomie, Letterkunde, Kuns en Media, Geskiedenis, MIV/Vigs, Internasionale Betrekkinge, Chinese Studie, Meertaligheid, Taalwetenskap, en Bemarking. Daarbenewens kan deelnemers een van drie temaprogramme volg. Die program “Leer, Volhoubaarheid en Gemeenskapskakeling" is 'n samewerkende projek met plaaslike skole en organisasies sonder winsoogmerk, “Sake in Suider-Afrika" bied studente 'n begrip van die sake-uitdagings en -geleenthede in hierdie snelgroeiende streek, terwyl “Openbare Gesondheid" hulle aan die gesondheidsorgstelsel van die land bekend stel.
Die Somer/Winterskool is ook die meeste deelnemers se eerste kennismaking met Suid-Afrika. Buiten akademiese blootstelling, kan hulle dus uitsien na die geleentheid om die land se kultuur en besienswaardighede ten volle te ervaar. Studente sal getrakteer word op uitstappies na Tafelberg, Robbeneiland, die ROOT44-mark, Kaappunt en die Kaapse Skiereiland. En diegene wat graag méér wil sien, kan na afloop van die Somerskool 'n opsionele toer van die Tuinroete meemaak. Die aandprogram sluit onder meer filmvertonings, 'n tradisionele braai, karaoke, sokkies en dinees in.
Vanjaar se deelnemers is deur die bank gretig om te begin. Anna Bowen, wat Ondernemingsbestuur aan die Universiteit van Georgia, Verenigde State, studeer, sê sy is “nuuskierig om oor Suid-Afrikaanse sake en die geskiedenis van die land te leer, en om terselfdertyd sommer heelwat pret te hê". Ricki Orozco, ook van die Universiteit van Georgia en 'n student in Politieke Wetenskap en Openbare Sake, stel op sy beurt veral belang in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika, wat volgens hom “'n gans ander omgewing" is as enige ander land wat hy tot dusver besoek het.