Skip to main content
US ernstig oor internasionalisering vir wêreldwye impak

US ernstig oor internasionalisering vir wêreldwye impak

By Birgit Ottermann
27 Mei 2019

In 'n al hoe meer geglobaliseerde en onderling verbonde wêreld is internasionalisering deesdae 'n voorrangsaak vir talle universiteite wêreldwyd, en die Universiteit Stellenbosch (US) is geen uitsondering nie. Die US het die afgelope 25 jaar een van die grootste internasionale voetspore van alle Suid-Afrikaanse universiteite opgebou: Die Universiteit neem jaarliks aan meer as 650 internasionaliseringsaktiwiteite met meer as 450 instellings in meer as 70 lande oor die hele wêreld deel. Nagenoeg 120 van hierdie aktiwiteite vind in Afrika plaas met sowat 100 vennote in 30 lande op die vasteland.

“Die US het homself geposisioneer om internasionalisering doelbewus te omarm," sê prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering by die Universiteit. Sy is die eerste bekleër van dié pos, wat in 2016 geskep is om aan die spits te staan van die instelling se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word. US Internasionaal, wat onder Klopper se portefeulje val, koördineer en ondersteun baie van die Universiteit se internasionaliseringsaktiwiteite om hierdie visie 'n werklikheid te maak.

“Ons het as deel van die US se missie ons bereid verklaar om die wêreld rondom ons deur samewerking te beïnvloed en te verander, en om self ook responsief te wees en verandering te verwelkom," sê Klopper. “Die kern hiervan is die gedagte dat wat in die wêreld gebeur ons navorsing, onderrig en leer sowel as ons skakeling raak, en dat wat by ons universiteit gebeur weer vir die wêreld saak maak. Die US is toegewy aan Suid-Afrika en Afrika. Terselfdertyd is ons deeglik bewus van ons rol in en verwantskap met die internasionale domein. Om te inspireer en geïnspireer te word, sal die US skakel en saamwerk met belanghebbendes, die gemeenskappe wat ons bedien, die bedryf, die regering en ons vennote op 'n plaaslike, streeks-, vastelands- en wêreldvlak om ons relevansie in die 21ste eeu en daarna te handhaaf en te versterk."

Klopper glo dit is belangrik dat universiteite huidige internasionale tendense en ontwikkelings weerspieël deur relevante kurrikulums vir ons geglobaliseerde wêreld te ontwerp: “Ons moet ons personeellede en studente die heel beste geleentheid bied om verantwoordelike wêreldburgers met 'n deeglike begrip van die wêreld om hulle te word, om op diversiteit te floreer en om die voordele van multikulturele onderrig te waardeer. Dít is waarom wêreldwye mobiliteit vir sowel studente as akademici besig is om toe te neem. Dit skep meer geleenthede vir strategiese internasionale vennootskappe en samewerking met 'n groter impak."

Die US het reeds samewerkingsbande met vennote in meer as 30 Afrikalande, en verdere uitbreiding van hierdie netwerke op die vasteland is 'n belangrike prioriteit. “Die US is ernstig daaroor om in Afrika geanker te wees, dog 'n wêreldwye impak te hê," verduidelik Klopper. “Deur navorsing oor die etlike uitdagings van ons vasteland te onderneem, wil ons 'n toonaangewende skepper van nuwe kennis en toepassings wees om werklike, positiewe verandering in ons mense se lewens teweeg te bring. Daarom sal ons graag wil sien dat die US voortaan 'n al hoe groter rol in die Alliansie van Afrikanavorsingsuniversiteite (ARUA) speel, saam met die 15 ander ARUA-lede. Ons is reeds die trotse tuiste van die ARUA Sentrum van Uitnemendheid in Energie, wat ons beplan om te versterk om selfs wyer skakeling en navorsingsamewerking oor Afrika heen te vestig." Nóg 'n belangrike saak vir die US is om akademieskap op die vasteland te bou en geleenthede vir die ontwikkeling van nuwelingnavorsers en PhD-studente te bied. “Ons Afrika Doktorale Akademie vervul 'n beduidende rol in hierdie verband," voeg sy by.

Klopper glo internasionale samewerking is die sleutel om die wêreld se uitdagings die hoof te bied. “Om universele uitdagings soos klimaatsverandering, armoedeverligting en nuwe siektes te hanteer, en die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte na te streef, moet ons saamstaan en ons hulpbronne saamvoeg in nuwe navorsings- en kennisnetwerke wat oor die hele wêreld strek. Huidige werklikhede bied ons nuwe geleenthede vir internasionale navorsingsamewerking, en vir uiteenlopende multi- en kruisdissiplinêre spanne om saam aan oplossings vir wêreldwye probleme te werk."​