
US-dataskool stel Afrikadatawetenskapakademie bekend
Die Universiteit Stellenbosch (US) het in Julie 2019 sy Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke tot stand gebring. In sy strewe om 'n wêreldklasinstelling vir datawetenskap en rekenaardenke ín en vír Afrika te wees, is een van die Skool se doelwitte om Suid-Afrika en die res van die vasteland se vermoë op dié gebied te bou. Vir dié doel het die Skool in Junie 2020 sy Afrikadatawetenskapakademie van stapel gestuur en die maand daarná reeds sy eerste kursusse in vennootskap met US Internasionaal se Afrika Doktorale Akademie (ADA) aangebied.
Weens die dataryke wêreld waarin ons leef, het verskeie universiteite wêreldwyd datawetenskap as 'n baie belangrike dissipline geïdentifiseer, wat 'n stormloop vir die vestiging van datawetenskapgerigte skole tot gevolg gehad het. Nietemin het die US 'n mededingende voorsprong, sê prof Kanshukan Rajaratnam, direkteur van die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke. “Danksy ons leierskap, het die US op unieke wyse van die norm afgewyk. Die Skool is so ontwerp dat dit nie net op datawetenskap nie, maar ook op rekenaardenke konsentreer, wat studente, navorsers en die bedryf 'n unieke waardevoorstel bied. Ek is opgewonde om deel te neem aan die vorming en uitbreiding van wat 'n belangrike deel van die Universiteit se toekoms sal uitmaak."
Namate ons al hoe meer data skep, is daar ook 'n al hoe groter vraag na personeel wat die data kan vertolk. Om plaaslik in hierdie vaardigheidstekort te voorsien, beoog die Suid-Afrikaanse regering om teen 2030 'n miljoen datawetenskaplikes op te lei. Die Skool se werk om individue met vaardighede op hierdie gebied toe te rus sal beslis 'n noodsaaklike bydrae in dié verband lewer.
Die Afrikadatawetenskapakademie se eerste aanbod het uit twee kursusse, “Inleiding tot datawetenskap" en “Inleiding tot statistiek en R", bestaan. Die kursusse is deur die US se eie wêreldklasakademici aangebied en deur US Internasionaal se impakryke ADA geadministreer, wat reeds sedert 2009 skole met afgevaardigdes van Suid-Afrika en die res van die vasteland reël en aanbied. Die ADA se bydrae tot die beplanning, bemarking en die logistieke bestuur en administrasie van die werksessies het die suksesvolle voltooiing van die Afrikadatawetenskapakademie se eerste aanbod verseker. Soos wat verwag is, was daar enorme belangstelling van sowel binne as buite die Universiteit en was albei aanlyn kursusse volbespreek. Die werksessies sal waarskynlik binnekort herhaal word.
Terugvoer oor die aanlyn kursusse was meestal positief wat die inhoud sowel as die aanlyn aanbieding betref. Trouens, baie afgevaardigdes het 'n voorkeur vir die aanlyn formaat uitgespreek omdat dít hulle in staat stel om die sessies vanaf hulle eie tuisinstellings by te woon, wat reis- en verblyfkoste uitskakel.
Die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke stel tans 'n programversameling vir implementering in die tweede helfte van 2020 saam, wat kursusse in Python-programmering en hoërvlakkursusse in datawetenskap en rekenaardenke insluit. Diegene wat in toekomstige aanbiedinge belang stel, kan gerus die Skool se webtuiste vir kursusaankondigings dophou.