Skip to main content
US chemici verkies tot topbestuur van SA Chemiese Instituut

US chemici verkies tot topbestuur van SA Chemiese Instituut

Media & Communication, Faculty of Science
22 Augustus 2019

Twee chemici van die Universiteit Stellenbosch (US), Prof. Peter Mallon en Prof. Willem van Otterlo, is onderskeidelik as president en visepresident van die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut (SACI) verkies.

Daarmee saam word 'n nagraadse student van die nuutverkose president se universiteit, in hierdie geval PhD-student Megan Mathews, die nasionale nagraadse studenteverteenwoordiger op die SACI-raad. Volgens Prof. Mallon is hierdie inisiatief ingestel ten einde jong chemici se deelname aan die aktiwiteite van die Instituut te vergroot.

Prof Mallon, 'n polimeerwetenskaplike, is ook die uitvoerende hoof van die US se Departement Chemie en Polimeerwetenskap, en prof. Van Otterlo is 'n organiese chemikus.

As nuutverkose SACI-president, het prof. Mallon 'n paar vrae beantwoord oor die rol van die Instituut in die ontwikkeling van chemici en chemie in Suid-Afrika, Afria en op internasionale vlak.

Wat is SACI se rol in Suid-Afrika?

Die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut (SACI) is die professionele liggaam wat alle chemici in Suid-Afrika verteenwoordig. Die instituut se missie is om die ontwikkeling en beeld van chemie op verskillende maniere te bevorder, om advies te gee oor chemie-opleiding en ander chemieverwante wetgewing en kwessies van openbare en omgewingsbelang, om 'n leidinggewende rol te speel ten einde die professionele bevoegdheid en integriteit van chemici te verseker, en om internasionale samewerking as deel van die chemiese gemeenskap in Afrika, te bevorder. Dit verskaf 'n forum vir alle chemici in Suid-Afrika om hierdie kwessies op 'n nasionale en internasionale vlak te kan bespreek.

SACI is ook die entiteit wat deur die Suid-Afrikaanse owerheid vir kwalifikasies (SAQA) aangewys is om die amptelike titel van Professionele Chemikus (PrChemSA) toe te ken. SACI publiseer ook die South African Journal of Chemistry. Dié vaktydskrif het in 2018 sy honderdste bestaansjaar gevier. Dit is derhalwe een van die oudste vaktydskrifte vir chemie, en 'n belangrike platform vir chemiese navorsing in Suid-Afrika.

By die US help die Departement Chemie en Polimeerwetenskap om die volgende generasie van jong professionele chemici op te lei. Dit is dus van wesentlike belang vir die Departement om 'n professionele vereniging soos SACI te ondersteun, ten einde die integriteit van die vakgebied in Suid-Afrika te verseker.

Hoe verseker die bestuur die volhoubaarheid van die Instituut in 'n veranderende wêreld?

SACI se uitvoerende komitee het met 'n hiersieningsproses begin en ons is tans besig om 'n nuwe vyfjaarplan te finaliseer. Ons gee onder meer aandag aan kwessies soos die veranderende rol van die Instituut, die betrokkenheid van jong chemici en diversiteit, asook finansiële volhoubaarheid, opleiding, kommunikasie, bestuur en strategiese vennootskappe.

So byvoorbeeld het ek onlangs die Forum vir Presidente van Chemiese Verenigings in Frankryk bygewoon.  Dit is deur die Société Chimique de France (Franse Chemiese Vereniging) gereël as deel van die Internasionale Unie vir Suiwer en Toegepaste Chemie (IUPAC) se eeufeesvierings. Tydens hierdie geleentheid het die presidente van 15 chemiese verenigings 'n Gesamentlike Raamwerkooreenkoms ter ondersteuning van die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte onderteken.

SACI is reeds 'n stigterslid van Die Federasie van Afrika Verenigings vir Chemie (FASC) en neem tans deel aan samesprekings oor die daarstelling van 'n Federasie vir Chemiese Verenigings in die Gemenebes van Nasies.

Al hierdie vennootskappe maak dit vir Suid-Afrikaanse chemici moontlik om by te dra tot, en deel te vorm van die internasionale gemeenskap van chemici.

Hoe belangrik is chemie as vakgebied vir 'n ontwikkelende land soos Suid-Afrika?

Chemie is 'n fundamentele wetenskap met 'n groot invloed op die toegepaste wetenskappe. Dit is van kernbelang tot baie tegnologiese aspekte van die ekonomie en speel 'n belangrike rol in die ontwikkeling van die nodige spesialiskennis om ons ekonomie verder te ontwikkel.

Suid-Afrika ondersteun die VN se doelwitte vir 'n meer volhoubare samelewing – dit is voor die hand liggend dat ons as chemici 'n belangrike rol het om te speel om baie van hierdie vraagstukke te help oplos.

 Foto: Stefan Els