
US-biblioteke bevorder navorsingsuitnemendheid
Die Biblioteek- en Inligtingsdiens bied vanaf 30 Julie tot 3 Augustus 2018 sy sesde Biblioteeknavorsingsweek aan. Vanjaar is die tema 'Navorsing in Aksie'.
Gedurende dié week word opkomende navorsers en studente van die Universiteit Stellenbosch (US) toegerus met praktiese kennis van navorsingsnoodsaaklikhede, onder meer hoe om 'n literatuur-soekstrategie voor te berei, 'n navorsingsvoorstel te skryf, kopieregkwessies te hanteer, en navorsingsdata te bestuur.
Volgens Naomi Visser, Koördineerder by die US Biblioteek, is die oogmerk met die Navorsingsweek om navorsers en nagraadse studente te help om beter toegeruste navorsers te word. “Die doel van die Navorsingsweek is om die vaardighede van jong navorsers en nagraadse studente te ontwikkel en om hulle met praktiese kennis van navorsingsnoodsaaklikhede toe te rus. Jong navorsers het dikwels vrae oor die navorsingsproses, waarop hulle studieleiers nie noodwendig die antwoorde het nie. Tydens die navorsingsweek probeer ons navorsingsdeskundiges kry om hierdie vrae te beantwoord."
Die Tygerbergkampus sal vir die eerste keer sy eie weergawe van die Navorsingsweek in die splinternuwe Geneeskunde- en Gesondheidswetenskappe-biblioteek hê. “Sedert die eerste Navorsingsweek in 2013 het studente en personeel van Tygerberg gevra vir die duplisering van sommige van die sessies op die Tygerbergkampus, aangesien dit nie altyd vir hulle moontlik is om Stellenbosch toe te ry om die Navorsingsweek hier by te woon nie, maar hulle het dieselfde behoeftes as navorsers op die hoofkampus. Ons vertrou dat ons vanjaar aan hierdie behoefte sal kan voldoen," sê Visser.
Afgesien van die navorsingsdeskundiges wat die Biblioteeknavorsingsweek bywoon, sal sekere van die US se verskaffers en steundienste kiosks in die US Biblioteek hê, en studente en personeel word aangemoedig om hierdie kiosks te besoek. Onder die verskaffers is Juta (Law), Sabinet (Suid-Afrikaanse vaktydskrifte), Springer Nature (akademiese publikasies, databasisse en platforms), Elsevier (ScienceDirect, Scopus), WWIS ('n agent vir 'n aantal databasisse, waaronder Web of Science), Ebsco Information Services, IRESS ('n sagtewaremaatskappy), en Emerald Publishing.
Die volgende steundienste sal ook beskikbaar wees: die Sentrum vir Studentevoorligting en ‑ontwikkeling, die Taalsentrum, die Sentrale Analitiese Fasiliteit, IT, Navorsingsinligting, Nagraadse Vaardigheidsontwikkeling, en die Sentrum vir Statistiese Konsultasie.
Die meeste van die sessies sal in die e-klaskamer in die US Biblioteek aangebied word, en aangesien die sitplekkapasiteit daar beperk is, word diegene wat dit wil bywoon, aangemoedig om 'n sitplek voor die sessies te bespreek.
Klik hier vir meer inligting oor die volledige program tydens Biblioteeknavorsingsweek.
Vir navrae, kontak Naomi Visser by [email protected] of 021 808 4433.