Skip to main content
Universiteit Stellenbosch LaunchLab terug by Innovus

Universiteit Stellenbosch LaunchLab terug by Innovus

Petro Mostert
21 Junie 2023

​Innovus is weer die amptelike tuiste vir die Universiteit Stellenbosch LaunchLab, as 'n afdeling van Innovus, met Brandon Paschal as die nuwe adjunk direkteur om hierdie entrepreneuriese inkubasie-spilpunt vanaf 1 Julie 2023 te lei.

Paschal sal oorneem by Joshua Romisher, wat in 2020 by die LaunchLab aangesluit het as hoof uitvoerende beampte. Met sy nuwe onderneming sal Romisher voortbou op die sukses van die US LaunchLab se klimaatgefokusde beleggings- en besigheidsbouplatform, ClimateLab (www.launchlab.africa/climate-lab ).

"Dit was 'n ongelooflike ervaring om die US LaunchLab te bou. Om elke jaar met nuwe entrepreneurs te werk, jaarliks mense by geleenthede te inspireer, en winsgewendheid te bereik was alles groot mylpale vir die LaunchLab. Die US LaunchLab beweeg nou van krag tot krag binne die US as 'n afdeling van Innovus. Ons is opgewonde en verbind tot die LanchLab se voortgesette groei," het Romisher gesê

Paschal is geen nuweling in die LaunchLab nie. Hy was instrumenteel in die stigting van die US LaunchLab en was 'n belangrike rolspeler van 2015 tot 2021. Hy het die inkubasieprogramme gelei, toesig gehou oor die inkubasie van meer as twintig maatskappye, die verfyning van die US se inkubasieprosesse, skakeling met beleggers, die bestuur van innovasieprogramme vir korporatiewe ondernemings, en om 'n klomp afwentelmaatskappy “gelukkig te hou". Hy het ook die pogings gelei om die programme en aktiwiteite te vestig wat meegebring het dat US LaunchLab wêreldwye erkenning van UBI Global ontvang het as Afrika se voorste universiteitsinkubator.

Paschal het in Mei vanjaar na die Innovus-span teruggekeer ná twee jaar as konsultant in die navorsingsomgewing vir afwentelmaatskappye. Mees onlangs het hy saam met verskeie landboubedryfliggame en hoëtegnologie-ondernemings gewerk om ekosisteme vir groei, produkstrategieë en fondsinsameling te ontwikkel.

"Om die LaunchLab weer te vestig as 'n belangrike onderdeel van Innovus, verseker dat ons Innovus se tegnologie-oordrag- en inkubasiespanne naatloos in lyn bring en integreer, wat 'n baie meer vaartbelynde proses en beter diens vir navorsers en entrepreneurs  van uitvinding tot inkubasie sal verleen. Dit is ook baie meer kostedoeltreffend as om die LaunchLab as 'n aparte maatskappy te bedryf," sê Anita Nel, Hoofdirekteur Innovasie en Kommersialisering by die US se Innovus-afdeling.

Prof Stan du Plessis, die US se bedryfshoof, sê die integrasie van die LaunchLab teurg onder ons Innovus-afdeling demonstreer die Universiteit se toewyding en belegging om ons kampusgebaseerde entrepreneurs en die breër sakegemeenskap te ondersteun. "Dit bevestig die Universiteit Stellenbosch as die maatstaf vir entrepreneuriese universiteite op die Afrika-kontinent en 'n wêreldleier op hierdie gebied."

Media navrae

Petro Mostert

[email protected]

M 0823346193