Skip to main content

Universiteit Stellenbosch bied NRO-gedrewe gesprek aan oor “die Suid-Afrika wat ons wil hê”

Lynne Moses
05 April 2019

​​'n Interaktiewe gesprek wat deel vorm van 'n reeks gefokus op wat Suid-Afrikaners verlang van 'n toekomstige Suid-Afrika word Woensdag, 10 April by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied vir lede van die publiek, nie-regerings en gemeenskapsorganisasies.

Dit vind plaas in die Jannasch-lesingsaal in die Konservatorium by die Universiteit Stellenbosch van 12:00 tot 14:00.

Die reeks word deur die Wes-Kaapse Gemeenskapskas, die Distrik Ses-museum, die projek One City, Many Cultures en die Fakulteit van Lettere en Sosiale Wetenskappe van die Universiteit Stellenbosch aangebied. Die Stellenbosse geleentheid kom ná 'n eerste gesprek in Februarie by die Distrik Ses-Tuiskomssentrum en in Maart by Hoër Jongenskool Paarl. Dit sal opgevolg word deur soortgelyke geleenthede oor die provinsie in die volgende twee maande.

Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe van die US sal die geleentheid aanbied danksy die bande wat me Ncebakazi Mnukwana, 'n dosent in die Departement Musiek, met 'n direksielid van One City, Many Cultures opgebou het, sowel as die skryfprojek waaraan Mnukwana by die Distrik Ses Museum deelneem. Die gesprek, wat in die Jannasch-lesingsaal by die Konservatorium sal plaasvind, is 'n voortsetting van die US100-vieringe in die Fakulteit.

Die bespreking, gefasiliteer deur mediakenner Ryland Fisher en Babalwa Gusha, Programkoördineerder by US se Transformasie-kantoor, sal die tradisionele struktuur van paneel-besprekings omkeer deur met bydraes van die vloer te begin, waarna genooide respondente in die gehoor aan die einde kommentaar sal lewer. Dít is om te sorg dat meer mense binne die beperkte toegelate tyd aan die gesprek kan deelneem.

“Ons het weggespring met 'n gesprek oor die rol van NRO's in 'n verkiesingsjaar, gevolg deur een oor die Suid-Afrika waarin ons almal graag wil woon. Dit het gou duidelik geword dat ons hierdie gesprekke ook buite die grense van die Kaapse metropolitaanse gebied moet hê," sê Lorenzo Davids, die bestuurshoof van die Gemeenskapskas.

Bonita Bennett, direkteur van die Distrik Ses-museum, voeg by: “Ons wil by gewone mense weet aan watter kwessies die regering moet aandag skenk. Hoe skakel ons met die regering sodat ons vir hulle 'n gelyker samelewing kan help skep? Hoe stel ons alles reg wat verkeerd is in ons land sodat ons almal na 'n beter, positiewer toekoms kan uitsien? Watter tipe land wil ons hê?"

“Ons sal 'n groep mense byeenbring wat graag die visie van 'n gelyker samelewing wil verder voer, ongeag politieke bande. Ons doel is nie om enigeen te beskuldig nie, maar om na oplossings te help soek." Fisher sê die organiseerders beoog om ná die laaste gesprek in Mei, na afloop van die verkiesing, 'n verslag op te stel wat onder senior politici en munisipaliteite landwyd versprei sal word om hulle 'n oorsig te bied van wat gewone Suid-Afrikaners dink.

The Stellenbosse dialoog sal die derde wees in die reeks “Die Suid-Afrika wat ons verlang"  ná die een wat op 14 Maart in die Paarl gehou is.

Ligte versnaperinge sal voor sowel as ná die tyd bedien word. Vir spysenieringsdoeleindes, RSVP by [email protected].

Vir meer inligting, kontak Ryland Fisher ([email protected] of 082 800 5326), Bonita Bennett ([email protected] of 021 466 7200) of Lorenzo Davids ([email protected] of 021 487 1500).

Foto: Paneellede by die eerste interaktiewe dialoog aangebied by die Distrik Ses Museum in Januarie. Van links is mediakenner Ryland Fisher, OVK provinsiale kommissaris eerw. Courtney Sampson, Universiteit Stellenbosch musieklektor Ncebakazi Mnukwana, die interim-direkteur van die Bertha Sentrum vir Sosiale Innovasie en Entrepreneurskap, Bulelwa Makalima-Ngewana, Gemeenskapskas HUB Lorenzo Davids, Distrik Ses Museum-direkteur Bonita Bennett en Menseregte Kommissaris eerw. Chris Nissen.