
The Union-lidmaatskap ʼn viering van die Aartsbiskop se lewe vir Hesseling
Professor Anneke Hesseling het gesê sy voel “bevoorreg en nederig" vanweë die erelidmaatskap wat sy van die Internasionale Unie Teen Tuberkulose en Longsiekte (die Union) ontvang het.
Die Union is ʼn vooraanstaande internasionale liggaam wat streef na “ʼn gesonder wêreld vir almal, vry van tuberkulose (TB) en longsiektes", met ʼn fokus op kwesbare groepe. Meer onlangs is dit ook die hoof globale platform wat met kinder-TB en -longsiektes te make het.
Hesseling, ʼn uitgelese professor, is die direkteur van die Desmond Tutu-tuberkulose Sentrum (DTTS) en ʼn globale kenner in kinder-TB. Sy het gesê dat haar lidmaatskap aan die Union om twee redes baie aandoenlik is. “Eerstens, Aartsbiskop Desmond Tutu, na wie ons sentrum vernoem is, het net na Kersfees verlede jaar gesterf. Hierdie is ʼn wonderlike erkenning vir die man wie sy naam met ons gedeel het en ons werk met hart en siel ondersteun het. Die DTTS vier in Maart die Aartsbiskop se lewe, en vir my is hierdie deel van die vieringe. Dit is spesiaal dat ons iets het om sy lewe mee te vier, net na sy dood.
“Tweedens word ek vanjaar 50, en dus is ek nou formeel middeljarig! In ʼn mylpaaljaar soos hierdie is dit wonderlik om hierdie erkenning van die Union te ontvang.
“Hierdie lidmaatskap gaan nie oor my persoonlik nie, maar oor die werk wat die DTTS doen. As jy in navorsing werk, gaan dit nooit net oor die individu nie, maar oor die groep."
Hesseling het gesê sy voel ootmoedig om saam met die hoogsbekwame groep mense geag te word wat erelidmaatskap van die Union ontvang het ter erkenning van hulle werk in die veld van TB en longsiektes.
Volgens Hesseling het die Union nog altyd ʼn sterk fokus gehad op lae- en middel-inkomste lande, en het pragmatiese inligting gedeel wat kennis versterk en kapasiteit bou.
“Die Union bestaan uit ʼn klein groepie wonderlike mense wat erkenning ontvang het vir hulle werk. Dit is ʼn groep mense wat begrip het vir die belangrikheid om kennis en befondsing te verhoog wat verband hou met die kritiese kwessie van kinder TB en –longgesondheid. Dit is ʼn wonderlike familie om deel van te wees.
Hesseling, wie haar mediese opleiding by die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het ook ʼn MSc-graad van Colombië-universiteit en ʼn PhD van die Londen Skool vir Higiëne en Tropiese Geneeskunde (London School of Hygiene and Tropical Medicine).
Sy doen al vir langer as ʼn dekade kliniese TB-navorsing op kinders uit omgewings met ʼn hoë voorkoms van TB en MIV.
Haar navorsingsprogram fokus op verbeterde en veilige TB-voorkomingstrategieë vir kinders met en sonder MIV-infeksie deur middel van chemoterapie en inenting; verbeterde behandelingstrategieë vir middelvatbare en middel-weerstandige TB-siekte, insluitende farmakokinetiese studies; en verbeterde TB-diagnose vir kinders met en sonder MIV-infeksie, insluitende biomerkernavorsing. Sy is ook aktief betrokke by kliniese navorsing en voorspraak om kinders betrokke te kry by proewe vir nuwe TB-middels en –behandelingstrategieë.
Hesseling het verduidelik: “Erelidmaatskap is soos ʼn leeftyd-prestasietoekenning vir jou diens in hierdie veld. Dit is ʼn 'dankie' vir jou bydrae tot die Union. Ek het die organisasie in verskeie opsigte gedien – insluitende op die redaksionele raad en ek sien uit na my voortdurende betrokkenheid."
Sy het gesê die Union se werk is veral belangrik op hierdie tydstip. “Die Covid-pandemie was ʼn terugslag vir die vooruitgang wat daar wêreldwyd in TB gemaak is, en dit is grootliks as gevolg van befondsing. Befondsing is afgelei na Covid en dit het die verlies van baie suksesse in die TB-stryd tot gevolg gehad.
“Vir die eerste keer in 10 jaar was daar ʼn afname in die hoeveelheid mense wat met TB gediagnoseer is en ʼn toename in TB-sterftes. Weens Covid was daar minder geleenthede vir mense om met TB gediagnoseer te word.
“TB is al vir duisende jare met ons. Covid is nuut. Pogings om Covid die hoof te bied moet nie ten koste van ons stryd teen TB wees nie.
“Ons het meer as 10 entstowwe teen Covid danksy die miljarde wat daarin belê is. Daar is slegs een entstof teen TB. As ons dieselfde hoeveelheid aandag aan TB skenk sal ons nog entstowwe vind."
Hesseling het beloof dat sy, as ʼn lid van die Union, sal voortgaan om voorspraak te maak vir TB en longsiektes en om te verseker dat dit op die globale agenda bly.