
Tygerberg Gospelkoor op ‘n hoë noot
Toe Terrence Mngomezulu in 2014 as eerstejaar- MB,ChB-student per toeval hoor hoe 'n paar studente gospel-liedjies sing as tydverdryf, is die saadjie om 'n gospelkoor op die Tygerberg-kampus te begin, geplant.
Mngomezulu, wat ook 'n aktiewe lid van die jeugkoor en die Katoliekekoor in sy tuisdorp Pietermaritzburg was, het 'n boodskap op Facebook gelaai en vriende genooi om deel te word van dié gospelkoor, wat nog nie eens bestaan het nie. Die enigste vereistes was musikale talent en 'n passie om God se lof te besing. "Dit was moeilik om iets te begin wat nog nooit bestaan het nie, maar ek het 'n brandende behoefte gehad om dit te doen," onthou Mngomezulu.
Nou, meer as twee jaar later, het die Tygerberg Gospelkoor (TGK) gegroei van 'n beskeie 15 lede tot 45 ywerige sangers.
"Ons was aanvanklik bekommerd dat die koor nie sou werk nie as gevolg van die min mense wat opgedaag vir die eerste samekoms, maar ons het nie moed verloor nie," vertel Busi Maphanga, 'n vierdejaar MB,ChB-student wat van dag een af deel was van die koor. Sy is nou die koor se voorsitter.
"Ons het begin deur maklike liedjies op YouTube te soek en dit te sing om te kyk of dit werk. Dit was nie maklik nie want ons het nie 'n professionele dirigent gehad nie. Ons sou na 'n liedjie geluister het, ons eie harmonieë uitwerk en dan begin oefen," vertel Maphanga. Dit was nie lank nie of hulle het soos 'n ware koor begin klink. Dié nuus het vinnig versprei en gou het hulle meer lede begin kry. "Toe ons 35 lede was, het ons genoeg mense in elke stemgroep gehad en ons was reg om op te tree."
Hul eerste optrede was in die Tygerberg Studentesentrum (TSS) tydens 'n Tygerberg Studenteraad (TSR)-geleenheid. "Ons was baie gespanne en angstig oor hoe die gehoor ons sal ontvang," onthou Maphanga. "Ons het twee liedjies gesing en die skare het gejuig. Dit was die begin van 'n wonderlike avontuur."
Die koor het steeds nie 'n professionele dirigent nie en word afgerig deur Sharon Mathole (MB,Chb II) en Mmathapelo Malope (MB,ChB IV). "Beide het sterk musikale agtergronde en was al betrokke by hulle onderskeie koshuis se sêrgroepe," verduidelik Maphanga. Mngomezulu is ook trots daarop dat die TGK as slypskool gedien het vir 'n paar studente wat nou deel is van die Stellenbosch Universiteitskoor.
Die TGK het elke semester 'n koorkamp waartydens hulle nuwe musiek leer en mekaar beter leer ken. "Dis meer soos 'n familie as 'n koor," sê Maphanga.
Die TGK sing in verskillende tale en fokus hoofsaaklik op gospel- en tradisionele liedere. Verlede jaar het die koor by die Stellenbosch Woordfees opgetree en hulle tree ook jaarliks by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Galakonsert op. Hulle reël jaarliks 'n "Clash of the Choirs"-byeenkoms as fondsinsameling vir die koor. Die koor word boonop gereeld gevra om by universiteitsfunksies, kultuuraande en selfs verjaardagpartytjies op te tree. Maphanga sê hul beoog om by groter projekte betrokke te raak en eendag nasionaal op te tree.
Mngomezulu kan soms steeds nie glo dat wat twee jaar gelede slegs 'n idee was, nou 'n diverse gemeenskap van mense is wat saamsing met 'n gemeenskaplik doel voor oë nie: "Ons is 'n veelrassige groep wat onsself uitdaag om skanse af te breek en die Woord van God deur musiek te versprei."
- Lidmaatskap is oop vir alle studente en personeel aan die Universiteit Stellenbosch. Musikale talent, 'n liefde vir Godsbediening en 'n redelike kennis van hoe om musiek te lees en toewyding is die enigste voorvereistes. Die koor is oop vir alle denominasies.
- Die koor oefen Donderdae-aande van 17:00 tot 19:00, behalwe as dit einde-van-blokweek is, in welke geval dit skuif na Maandae-aande.
- Besoek hul Facebook-blad om uit te vind van opkomenede optredes, of kontak Busi Maphanga deur 'n epos te stuur na [email protected] as jy belangstel om aan te sluit.