
Tyd vir innovasie om internasionalisering vir méér moontlik te maak
In 'n verdere aflewering van sy aanlyn reeks globale jeuggesprekke ter viering van Jeugmaand in Junie, het US Internasionaal oor die onderwerp van jeug en internasionale onderwys beraadslaag.
Paneellede en gaste het oor die uitdagings van die internasionalisering van hoër onderwys gesels – nie net teen die agtergrond van COVID-19 nie, maar ook in die lig van die beperkinge van die tradisionele universiteitsmodel, wat “al hoe meer onvolhoubaar word, en vereis dat ons in ontwrigtende innovasie belê om die hoër onderwys én sy reaksie op samelewingsprobleme te versterk", het Bantu Louw, bestuurder van US Internasionaal se semestermobiliteitsprogram, gesê. “COVID-19 het bloot kom onderstreep dat hoëronderwysinstellings in plaaslike én internasionale verband dringend die sosiopolitieke, sosio-ekonomiese, samelewings- en ontwrigtende tegnologiese uitdagings in die hoëronderwysruimte moet hanteer."
Wat universiteite onder meer innoverend en potensieel transformerend maak, is hulle deelname aan internasionaliseringsaktiwiteite. Internasionalisering maak onderwys aantrekliker, en stel hoëronderwysinstellings dikwels ook in staat om beter op die samelewing se behoeftes en probleme te reageer. Die internasionaliseringstrategieë wat hoëronderwysinstellings aanvaar, sluit onder andere navorsingsamewerking, vennootskapsontwikkeling sowel as studente- en personeelmobiliteit in. Dít alles hou etlike voordele in, soos om internasionale samewerking en vermoëbou te versterk en gegradueerdes beter op die arbeidsmark voor te berei.
Nietemin “is daar sekere uitdagings vir internasionalisering," het Louw gesê, “veral in Suid-Afrika, en in die besonder wat studentemobiliteit betref. Die hoofuitdaging is dat internasionale studente dikwels die mees bevoorregtes in die samelewing is. Nie almal kan internasionaal reis om 'n 'internasionaal mededingende' opvoeding te bekom nie". Hy het verder verduidelik: “Die gesprek oor toegang tot onderwys woed steeds voort in Suid-Afrika weens die sosio-ekonomiese struktuur van die samelewing. As 'n mens dan nog toegang tot buitelandse studiegeleenthede by die gesprek insluit, laat dít baie studente in 'n selfs meer benadeelde posisie, wat op 'n bepaalde spanning tussen internasionalisering en die sosio-ekonomiese status van 'n instelling dui."
Hoewel Suid-Afrika 'n reusevraag het na onderrig en leer, synde 'n bydraer tot insluiting en ekonomiese groei, maak die land se hoë armoedevlakke, inkomste-ongelykheid en lae toegang tot onderwys dit vir sommige instellings moeilik om die voordele van internasionalisering te ontsluit. Volgens spreker Riann Johnson “is dít omdat ekonomie 'n kernrol in internasionalisering vervul, so die sosio-ekonomiese status van die staat en instelling beïnvloed wat met die internasionalisering van die hoër onderwys bereik kan word".
Sessiedeelnemers was dit eens dat internasionaliseringspraktisyns onder meer hierop behoort te reageer deur 'n verskeidenheid internasionaliseringstrategieë te aanvaar wat ag slaan op die sosio-ekonomiese status van die staat en instelling, sowel as die implikasies daarvan vir die strewe na internasionale samewerking, vennootskapsontwikkeling en studente- en personeelmobiliteit.