
Tweede Victoriastraat droommyl dalk ’n werklikheid
'n Tweede droommyl – die myl in onder vier minute – wink vir deelnemers wat op Woensdag 27 Februarie vir die negende Dagbreek Straatmyl gaan aantree.
So meen die organiseerder van die jaarlikse Straatmylfees, Francois Fouche. Dié unieke jaarlikse fees vind in die plataanryke Victoriastraat in Stellenbosch plaas en vorm weer deel van die Universiteit Stellenbosch Woordfees wat vanjaar 20 jaar oud is.
“Ryan Mphahlele, wat in Desember tydens die Eden Bestmed-reeks al drie wedlope gewen het en sommer twee droommyle in twee dae aangeteken het, het reeds sy deelname bevestig," sê Fouche.
Die Bestmed-reeks is in Oudtshoorn, George en Hartenbos aangebied met Mphahlele wat in Oudtshoorn en George droommyle gehardloop het en as Grand Prix-reekswenner aangewys is.
“Die voormalige Olimpiese atleet, Johan Cronje, het in 2015 die eerste – en tot dusvêr die enigste – droommyl in Victoriastraat gehardloop," verduidelik Fouche. “Dit kan dalk net wees dat die Droommyl-trofee, op die spel vir 'n atleet wat onder 4 minute oor die wenstreep hardloop, vanjaar 'n baas gaan vind."
Mphahlele spog met 'n beste droommyl-tyd van 3:56 en het reeds verskeie veldlooptitels agter sy naam. Sy doelwit is om vir die 2020 Olimpiese Spele in Japan in die 1 500 m te kwalifiseer, sê Fouche.
Verlede jaar se wenner van die seuns o/19 wedloop, Geo van Niekerk, het weer ingeskryf en sal saam met die groot kanonne vir die Elite-wedloop aantree. Hy was verlede jaar baas in die Universiteit van Wes-Kaapland se straatmyl in die junior afdeling.
'n Verdedigende kampioen, weliswaar in die Meesters-afdeling, Max Rupert, gaan ook weer die wedloop aanpak. Hy was die wenner van die eerste Meesters-wedloop in 2018. Rupert is verbonde aan die Strand Atletiekklub.
Nog 'n atleet met nasionale kleure wat sy deelname bevestig het, is Pieter Oosthuisen. Hy is tans die nasionale vyfkamp kampioen. Hy spog met verskeie Suid-Afrikaanse titels en internasionale deelname. Van die hoogtepunte sluit in 'n goue medalje in 2017 by die UIPM Wêreldkampioenskappe in Spanje en in 2016 behaal hy 'n silwermedalje in die VSA.
Hendrik Cronje, wat enkele jare gelede bekend was vir sy rol in 7de Laan, gaan ook weer kom deelneem. Die Cronje-broers (Hendrik en Johan is broers) se eerste vollengte film, Liewe Lisa, is onlangs vrygestel met Hendrik wat die storie geskryf het, die hoofrol vertolk en hy was regisseur.
Die eerste Dagbreek straatmyl is in 2011 ter ere van oud-Matie De Villiers Lamprecht aangebied. Hy was die eerste Suid Afrikaanse atleet om ʼn droommyl (die myl onder 4 minute) te hardloop – ʼn myl is 1 609 m. Dié geskiedkundige wedloop het op 13 November 1964 op Coetzenburg in Stellenbosch plaasgevind. De Villiers was toe ʼn inwoner van die manskoshuis Dagbreek.
Daar is vanjaar sewe wedlope wat in 12 afdelings aangebied word. In die PNA Skole-wedloop is daar 'n o/13-wedloop bygevoeg (seuns en meisies) – benewens wedlope vir o/15 en o/19. Daar is ook pryse vir die skole met die meeste deelnemers en beste prestasie.
Op 'n ligter trant sorg die Mans en Vroue Ope-kategorieë, benewens sterk pogings deur 'n aantal amateurs, vir groot vermaak met massa-deelname deur studente en ander belangstellendes.
Die hoofitem van die aand is die elite-wedloop. Nadat atlete van die Universiteit van Wes-Kaapland reeds die afgelope twee jaar koning gekraai het, kan dit dalk net weer 'n Matie wees wat vanjaar eerste deur die lint bars.
Oudergewoonte is daar hope vermaak tussendeur die wedlope met onder andere Deidre Barnard, wat onder die top 3 in die gewilde TV-reeks Die Kontrak geëindig het, wat gaan optree.
Skaatsplankafdeling
Steeds uniek aan die Stellenbosse Straatmylfees is die skaatsplank-afdeling – sovêr bekend die enigste skaatsplank-myl“wedloop" in Suid-Afrika. Dit word vanjaar reeds vir die vierde keer aangebied met die wenners wat telkens onder die 4 minute klaarmaak. Skaatsplank-wedlope word in 2020 as ʼn Olimpiese sport aangebied.
Vir atlete is daar groot pryse en ʼn gelukstrekking op die spel. Die eerste tien atlete in elke wedloop ontvang ʼn spesiale medalje, asook die top 30 in die ope mans en vroue kategorieë.
- Die inskrywingsfooi is R30 en word gedoen voor Dagbreek-manskoshuis in Victoriastraat. Atlete spring bo in Victoriastraat weg.
- Klik hier vir ʼn kort video van die 2017 Straatmylfees.
- Skakel met Francois Fouche by [email protected] vir meer inligting.