Skip to main content
Twee DTTS-navorsers gekies as besoekende navorsers by die Brocher-stigting

Twee DTTS-navorsers gekies as besoekende navorsers by die Brocher-stigting

Kim Cloete
23 Februarie 2016

Die Brocher-stigting, wat in Switserland gebaseer is, is 'n tweede tuiste vir baie uitgelese akademici in die wêreld. Twee navorsers van die Desmond Tutu TB Sentrum (DTTS) aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch sal binne ʼn tydperk van een jaar by hierdie groep ingesluit wees.

Dr Lyn Horn, ʼn etikus in toegepaste navorsing, het onlangs teruggekeer van 'n maandlange besoek aan die Brocher-stigting, terwyl Sue-Ann Meehan, hoofnavorser by die Gemeenskaps-Vigsvoorkomingsprojek, (Community AIDS Prevention Project, COMAPP) uitsien na 'n maandlange besoek. 

Die Brocher-stigting is op die oewer van die meer van Genève. Die kasteel, wat in die laat-1800s op 'n landgoed van drie hektaar gebou is, was eers 'n somershuis. Dit is in 2006 deur die Brocher-stigting bekom en meer as 200 navorsers afkomstig van baie universiteite is sedertdien al daar gehuisves.

Dit is 'n groot voorreg om genooi te word om tyd by die Brocher-stigting te deur te bring, en die maand of twee is 'n goeie geleentheid om tyd aan navorsing te bestee en met medenavorsers van regoor die wêreld kontak te maak.

"Dit is regtig mooi. My kantoor het 'n uitsig op die meer gehad. Dit was 'n positiewe ondervinding wat genoeg ruimte gebied het om navorsing te doen en om met almal, van etici, filosowe en antropoloë tot sosioloë te netwerk," het Horn gesê. Sy is as navorsingsetikus betrokke by die "HPTN 071 Population Effects of Antiretroviral Therapy to Reduce HIV Transmission" (PopART) studie. Horn het egter tydens haar verblyf by Brocher op die etiese aspekte van die genomiese navorsing gefokus.

Horn het gesê sy het tyd deurgebring saam met navorsers van Denemarke, Kanada, China, die Verenigde Koninkryk en Switserland, waarvan sommige hul PhD-studies voltooi het en ander navorsing oor verskeie onderwerpe gedoen het. Daar bly elke maand omtrent 12 navorsers in die uitgebreide huis op die landgoed, elkeen met hulle eie kamer.

Die Brocher-stigting huisves wetenskaplikes en kundiges wat die etiese, regs- en maatskaplike implikasies van die ontwikkeling van mediese navorsing en biotegnologie ondersoek.

Meehan het gesê sy sien baie uit na haar besoek aan die Stigting volgende jaar.

"Ek voel bevoorreg om soontoe te kan gaan. Ek sien uit daarna om idees met ander navorsers te ruil en om oor my werk te kan besin en die betekenis daarvan krities te beoordeel.

Meehan sal aan haar PhD-graad werk. Sy ondersoek die bydrae van 'n gemeenskapsgebaseerde inisiatief wat toegang tot MIV-berading en -toetsing in Kaapstad sal verbeter.

Meehan wil graag sien dat die bevindings van haar PhD die beleidsriglyne oor MIV-berading en -toetsing in Suid-Afrika beïnvloed.

Sy hoop om die Wêreldgesondheidsorganisasie se hoofkantore in Genève te besoek, waarheen sommige van die deelnemers genooi word om lesings aan te bied.

Buiten om die rustigheid van die meer van Genève in te drink, spandeer navorsers tyd in die hoofstad van Switserland. Horn het genoem dat sy geroer was tydens 'n fassinerende besoek aan die Rooi Kruis en Rooi Halfmaan Museum (Red Cross and Red Crescent Museums) in Genève

Die Brocher-domein bestaan uit agt geboue – die hoofhuis wat Villa genoem word, die Brocher-sentrum wat in 2006 gebou is, die Lodge, die Chaumière (voorheen die motorhuis), die Orangerie, die Pavillon des bois (voorheen die houtskuur), die boothuis en die Gloriette.

Meer as 30 universiteite wêreldwyd, en ook internasionale organisasies, is vennote van die Brocher-stigting, wat meer as 700 kundiges per jaar by hulle wetenskaplike geleenthede verwelkom.

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.