
Transformerende Studente-Ervarings
Die afgelope paar maande sedert ons vorige nuusbrief het die wêreld stadigaan gewoond geraak aan die “nuwe normaal" wat deur die wêreldwye COVID-19-pandemie meegebring is. Die Universiteit Stellenbosch (US) het fluks gevorder met sy pogings om te sorg dat sy studente – internasionale studente aan die US, sowel as US-studente oorsee – steeds 'n transformerende ervaring ontvang. Vir mobiliteitsgeleenthede vóór COVID-19 het studente gewoonlik 'n internasionale vlug gehaal en 'n universiteit en kultuur buite hulle landsgrense ervaar. Die Suid-Afrikaanse grense is egter steeds gesluit, so ons moes na ander maniere soek om te sorg dat internasionalisering en die gepaardgaande ervarings voortgaan, al kan studente nie die land verlaat nie.
Hoewel ons daarna uitgesien het om hierdie semester 'n nuwe kohort studente van ons vennootuniversiteite te verwelkom, kan ons nog nie met kontakklasse begin nie. Nietemin het ons studente die keuse gegee om hetsy hulle uitruilgeleentheid na die eerste semester van 2021 uit te stel of by aanlyn klasse aan te sluit. Die meeste het gekies om uit te stel, maar sommige het met aanlyn klasse begin, en kan dalk in die vierde kwartaal van 2020 op kampus by ons aansluit indien die internasionale reisverbod in daardie stadium opgehef is. Die aanlyn klasse het met 'n oriëntering- en verwelkomingsprogram in die kuberruim begin. Daarbenewens het ons van 6 tot 24 Julie die eerste aanlyn aflewering van die Afrika Doktorale Akademie se winterskool aangebied. Die geleentheid, waarvoor 90 deelnemers ingeskakel het, het die vorm aangeneem van vyf werksessies oor stelselmatige beoordeling, kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsing, voorbereiding vir 'n PhD, en statistiek. Dít baan nou die weg vir toekomstige samewerking met ons vennootuniversiteite om akademieskap op die vasteland te bou.
Deur hierdie en verskeie ander inisiatiewe beplan ons om toe te sien dat die US sy studente steeds 'n internasionale ervaring bied ondanks die huidige beperkinge op mobiliteit. Die COVID-19-pandemie bly 'n leergeleentheid vir alle universiteite, veral op die gebied van internasionalisering. Ons by die US sal voortgaan om nuwe maniere te ondersoek om ons internasionale vennootskappe te koester en studente van oor die hele wêreld 'n waarlik transformerende ervaring te bied.
Prof Hester C Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering