
Toptoekennings vir aardwetenskapstudente
Twee nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch se Departement Aardwetenskappe het twee van die top-toekennings van die Geologie Vereniging van Suid-Afrika ontvang.
Jean Loock se honneurstesis is as die beste tesis in aardwetenskappe in Suid-Afrika in 2015 aangewys, terwyl Matthew Mayne met die John Handley-toekenning vir die beste MSc tesis weggeloop het.
Loock, 'n voormalige Grey Hoërskool-leerder, het onder meer 'n driemaandelange retoervaart na Antarktika op die navorsingskip SA Agulhas II onderneem om data vir sy navorsing oor klimaatsverandering in te samel: "My projek ondersoek klimaatsverandering deur die konsentrasie van bio-aktiewe spoormetale in die Suidersee te bestudeer en hoe lae konsentrasies daarvan die groei van mariene phytoplankton beïnvloed.
"Dit was baie bevredigend om so 'n projek aan te pak. Die navorsing waarmee ons hier by die US besig is, word deur net 'n paar laboratoriums ter wêreld gedoen. Tog is dit uiters belangrik vir die verstaan en modellering van toekomstige veranderings in ons oseane en klimaat," sê hy,
Loock gaan voort met sy navorsing op hierdie onderwerp vir 'n MSc onder leiding van prof. Roy Roychoudhury. Hy sal in Julie die resultate van sy honneurstesis by 'n simposium van die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Program (SANAP) aanbied, sowel as by die Internasionale Oseaan Wetenskap Konferensie van die Wetenskaplike Komitee oor Antarktiese Navorsing (SCAR) wat in Augustus in Maleisië plaasvind.
Op sy beurt het Mayne 'n nuwe konsep in modellering, naamlik 'path dependence', ontwikkel en dit verpak as deel van 'n sagteware packet, Rcrust. Die nuwe konsep maak dit moontlik vir geoloë om veelvuldige stappe in die proses van die vorming van metamorfiese rotse te ondersoek. 'n Metamorfiese rots is 'n tipe rots wat deur ekstreme hitte en druk gevorm is.
Mayne, wat by Edenvale Hoërskool in Johannesburg sy matriek voltooi het, sê die nuwe sagteware is baie toeganklik, ook vir studente, en sal hopelik die gebruik van termodinamiese modellering aanmoedig.
'n Artikel oor sy werk het onlangs in die Journal of Metamorphic Geology verskyn. In Julie sal hy 'n voordrag lewer by die Werkswinkel oor die Oorsprong en Evolusie van Plaattektonika in Switserland, asook by die Internasionale Geologie Kongress wat in Augustus in Kaapstad plaasvind.
Rcrust is beskikbaar op die Departement Aardwetenskappe se webwerf en kan gratis kan afgelaai word by http://www.sun.ac.za/english/faculty/science/earthsciences/Pages/Rcrust-1.aspx
Mayne is tans besig met sy PhD in aardwetenskappe onder leiding van prof. Gary Stevens, beklëer van die SARChI navorsingsleerstoel in Eksperimentele Petrologie by die US.