
Top studente in rekenaarwetenskap word beloon
Die top studente in rekenaarwetenskap by die Universiteit Stellenbosch het gesamentlik sowat R40 000 se prysgeld verdien vir hul harde werk gedurende 2015.
Die toekennings, geborg deur industrievennote soos Barclays, VasTech, IBM, Praelexis en 4iMobile, is tydens ’n spesiale geleentheid op Donderdag 7 April 2016 oorhandig.
Die Van der Walt-medalje vir die beste derdejaarstudent, geborg deur Barclays, is toegeken aan mnr. Jaco Smit, terwyl mnr. Nicolaas Weideman die toekenning vir die beste honneurstudent, geborg deur VasTech, ontvang het.
Die prys vir die beste honneursprojek is geborg deur IBM en het gegaan aan mnr. Chris Coetzee.
Barclays het ook die toekennings vir die beste eerstejaar- en tweedejaarstudente geborg. Hierdie pryse is gewen deur mnr. Charl Cilliers en mnr. Francois Smit.
Die volgende studente het eervolle vermelding ontvang: me. Sarah Selkirk, mnr. Brian Schirmacher, mnr. Elrich Groenewald en mnr. Pierre le Roux.
Die toekenning vir 2015 se beste student in masjienleer (’n rekenaarwetenskapmodule) was mnr. Stuart Robertson. Die prysgeld is geborg deur Praelexis.
Mnr. Pierre le Roux het die prys vir die beste student in mobiele sisteemsontwikkeling (’n rekenaarwetenskapmodule) ontvang. Die prysgeld is geborg deur 4iMobile.
Mnr. Liam Baker, mnr. Chris Coetzee en mnr. Jean Breytenbach het as die beste US-span uit die stryd getree by die ACM Inter-Kollege Programmeringskompetisie wat by die Universiteit van Kaapstad plaasgevind het en is daarvoor vereer.
Foto: Anton Jordaan