Skip to main content
​Terugvoer uit die Raadsvergadering van 17 April

​Terugvoer uit die Raadsvergadering van 17 April

Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
18 April 2023

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het dr Nicky Newton-King as nuwe Voorsitter verkies. Dit volg ná die ontydige afsterwe van die vorige Voorsitter, mnr Ainsley Moos, op 31 Januarie 2023. Dr Newton-King, die Ondervoorsitter in daardie stadium, het sedertdien tydelik as Voorsitter waargeneem, maar is nou as Voorsitter van die US Raad verkies. Sy sê: “Dit is ’n voorreg om as Voorsitter aangestel te word. Ek aanvaar hierdie verantwoordelikheid met nederigheid en ’n pligsbesef. Ek het die grootste respek vir die statuur van die Universiteit en die bydraes van sy personeel en studente.” Dr Newton-King dien sedert 2 April 2022 op die Raad as ’n lid wat deur donateurs van die Universiteit verkies is. Sy is ’n oudstudent van die US met ’n BA LLB en ’n LLM van Cambridge. Sy het ook ’n eredoktorsgraad van die US ontvang. Sy is ’n voormalige uitvoerende hoof van die Johannesburgse Aandelebeurs en dien tans op die direksies van die Investec- en MTN-groep.’n Mosie in terme van afdeling 42(3) van die US Statuut om die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, van sy amp te onthef, het vandag by ’n vergadering van die US Raad gedien. Die mosie is voorgestel deur dr Leon Schreiber en gesekondeer deur dr Jan Heunis. Ná afloop van ’n omvattende debat, het die Raad ooreengekom dat die kwessie eers verwys moet word na ’n Raadskomitee bestaande uit drie persone waarvan een ’n onafhanklike regsgeleerde moet wees. Die komitee sal die feite onderliggend aan die mosie ondersoek, waaronder bewerings van nepotisme en ’n moontlike verbreking van die betrokke reëls betreffende die Rektor se diskresionêre plasings en die plasing van familielede van die Rektor en Visekanselier. “Die bewerings van nepotisme is ernstig,” het dr Newton-King gesê, en die Raad besef die impak van hierdie kwessie op die US se belanghebbendes. “Sodra die Raad die komitee se verslag ontvang het, sal die Raad die verslag evalueer en die mosie deur dr Schreiber oorweeg. Die Raad besef hoe belangrik dit is om hierdie kwessie as ’n saak van dringendheid te hanteer en is daartoe verbind om dit op ’n wyse te doen wat regverdig is teenoor sowel die Universiteit as die Rektor, en op ’n manier waarin die instelling se belangegroepe vertroue kan hê,” het dr Newton-King gesê. “Ons verwelkom die geleentheid vir noukeurige ondersoek en refleksie, wat ons in staat sal stel om die hoë standaarde te handhaaf waarvoor ons bekend is en om aandag te gee aan sake waarop moontlik verbeter kan word. Ek wil die versekering gee dat die stabiliteit en kontinuïteit van die Universiteit in hierdie stadium ons prioriteit is,” het sy gesê. Die Raad het ook besluit die kwessie van die Rektor se diskresionêre plasings moet in geheel beoordeel word deur die relevante akademiese oorsigstrukture vir oorweging deur die Raad. Dr Schreiber verwelkom die verskoning wat die US uitgereik het betreffende gevalle wat in die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag oorweeg is. Hy het bevestig die mosie is gegrond op bewerings van nepotisme en dat dit as ’n saak van dringendheid ondersoek sal word.SAMRK-verslag oor taalDie Raad het ook kennis geneem van en saamgestem dat daar aspekte in die verslag van die SAMRK oor taal in US-koshuise gedurende die verwelkomingstydperk in 2021 is waarop die Universiteit moontlik vollediger sal wil reageer en moontlik selfs wil betwis. Die Universiteit beoog egter nie om die inwerkingstelling van die kern van die SAMRK se regstellende optrede en aanbeveling tot die datum wat die Kommissie bepaal het (13 Mei 2023) te vertraag nie. Die US herhaal ook sy vorige verklarings dat die soort optrede wat in die SAMRK se verslag uiteengesit is en wat die gebruik van Afrikaans in koshuise beperk het, verkeerd is en nooit moes plaasgevind het nie. Soos die SAMRK aangedui het, sou die Universiteit se Taalbeleid nie toegelaat het dat enige student verhoed word om om die taal van hulle keuse in koshuise te praat nie. Die US win tans regsadvies in oor aspekte van die SAMRK-verslag, waarna dit volledig op die verslag sal kommentaar lewer. Die Universiteit verwelkom egter die SAMRK se bevinding dat daar nie “’n flagrante en gekonsentreerde verbod op Afrikaans was wat deur ’n gesamentlike poging van die US en sekere individue in die bestuur aangevuur en gemotiveer is om Afrikaans by die US uit te roei nie”. Die US vra alle studente in die koshuise Minerva en Irene wat deur praktyke gedurende die verwelkomingsweek in 2021 geraak is en wat gevoel het hulle menseregte en waardigheid is aangetas deur nie Afrikaans in ’n sosiale konteks te kon praat nie, onomwonde om verskoning. Hoewel die Universiteit omvattende opleiding vir studenteleiers oor die toepassing van die Taalbeleid ingestel het en hierdie opleiding vanjaar versterk is, sal die Universiteit voortgaan met hierdie opleiding. Ons bevestig terselfdertyd ons verbintenis tot ’n meertalige, multikulturele universiteit wat menseregte en waardigheid respekteer en waar al ons belanghebbers welkom voel. Die US Senaat ondersteun hierdie stap. ​