
Te veel kinders word gestrem van TB-meningitis
TB-meningitis (TBM) kan verwoestend wees vir kinders, en kan lei tot die dood of permanente gestremdheid, alhoewel dié siekte voorkom en behandel kan word as dit betyds waargeneem word.
Navorsing van die Universiteit Stellenbosch (US) het getoon dat slegs 15% van die kinders wat in Kaapstad se Tygerberg-kinderhospitaal opgeneem word vir TBM in die vroeë stadium van die siekte is. Teen die tyd wat die meeste kinders met TBM in die hospitaal opgeneem word, toon hulle reeds tekens van ligte bewusteloosheid, of het hulle 'n beroerte gehad, of is in 'n koma en het reeds breinskade opgedoen.
"Dit is tragies, veral aangesien TB-meningitis behandelbaar is en kinders heeltemal kan herstel, as dit vroeg opgespoor word," sê prof Regan Solomons, 'n mede-professor by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en 'n pediatriese neuroloog by die Tygerberg-kinderhospitaal. Hy het onlangs ondersoek ingestel oor hoe om die diagnose van TBM in kinders te verbeter.
Die voorkoms van TBM in die Wes-Kaap is van die hoogste in die wêreld, en daar is sowat 50 kinders wat elke jaar met TBM by die Tygerberg-kinderhospitaal opgeneem word.
Alhoewel dié hospitaal die hoogste oorlewingsyfer vir TBM in die wêreld het – hoër as 96% - word kinders dikwels te laat opgeneem om hulle toestand te verbeter, sê Solomons. Alhoewel hulle waarskynlik sal lewe, is hulle kanse op 'n normale, gesonde lewe iets van die verlede. Kinders tussen die ouderdom van twee en vier jaar is veral kwesbaar hiervoor.
Sodra TB na die brein versprei kan dit tot permanente gestremdheid lei, soos breinverlamming, epilepsie, ernstige gedragsprobleme en blindheid, sê Solomons.
Vir sy PhD het Solomons gefokus op TBM in Amsterdam en het hy 'n gedeelde PhD-graad deur die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die FGGW en die Vrije Universiteit in Nederland verwerf. Dit was een van die eerste gedeelde PhD-grade wat gesamentlik toegeken is deur hierdie twee universiteite.
Solomons se navorsing het gewys dat TB nie noodwendig op X-strale van die bors bespeur kan word nie. TB kon op minder as die helfte van die TBM-pasiënte in sy studie se X-strale van die bors bespeur word.
"Wees oplettend, al is die X-straal van die bors normaal, want dit beteken nie noodwendig dat daar nie TB is nie," raai Solomons aan. 'n Laer konsentrasie serebrospinale vloeistofglukose onderskei TBM van die minder gevaarlike virale meningitis. Sy navorsing het ook gewys dat die diagnose verbeter kan word deur terselfdertyd ook bloedglukose te meet.
Volgens Solomons is die eerste en belangrikste stap vir ouers, versorgers, dokters en verpleërs om bewus te wees van die gevaartekens van TBM. Dit kan moeilik wees, aangesien die simptome soms eenders is as dié van griep. Maar blywende simptome moet kommer wek, waarsku Solomons.
"As 'n kind aanhoudend hoes, in die nag sweet, naar is, 'n swak eetlus het en gewig verloor, is TBM 'n moontlikheid. Dit is ook belangrik om te vra of 'n kind kontak gehad het met 'n volwassene met TB. TBM-simptome hou gewoonlik vir langer as vyf dae aan."
Solomons is bekommerd dat klinieke nie genoegsaam TB-gevalle identifiseer nie.
"Kinders met TBM het oor die algemeen drie of vier keer kontak met gesondheidswerkers voordat hulle by my uitkom. Baie geleenthede gaan verlore by die kliniek. Die simptoom wat gereeld oorgesien word by die kliniek is dat kinders naar is, maar geen diarree het nie.
"Soms word dit verkeerdelik gediagnoseer as gastroenteritis, maar jy kan nie gastroenteritis hê sonder enige diarree nie. As 'n kind aanhoudend opgooi, kan dit 'n teken wees dat daar verhoogde drukking iewers op die brein is en dit is kommerwekkend."
'n Kind wat met TB gediagnoseer word, sal vir ses maande behandeling ontvang, met 'n kombinasie van vier verskillende middels wat gebruik moet word.
TB word versprei deur volwassenes wat meestal die algemeenste vorm van TB, naamlik pulmonêre TB, het.
"Dit neem slegs 'n paar druppeltjies van 'n nies of hoes van 'n volwassene met TB om 'n kind aan te steek. TB sal eers na die longe gaan en dan versprei na die brein, waar dit TB-meningitis veroorsaak."
As dit nie behandel word nie, kan verswakking skokkend vinnig plaasvind.
"Dit is hartverskeurend om kinders te sien wat 'n paar maande terug nog gesond was en nou permanente neurologiese gestremdheid het," sê Solomons.
"Die ouers kom in en hulle is heeltemal geskok. Hulle kind was dalk siek vir 'n ruk, maar kon nog speel en met hulle praat, en dan is hulle ewe skielik in 'n koma. Dit verg soms 'n paar keer se verduideliking voordat die nuus deurdring tot die ouers."
Kinders wat neurlogiese skade opgedoen het weens TBM benodig gereeld intensiewe sorg, insluitend fisioterapie, arbeidsterapie, rolstoele en ander hulpmiddels.
Die Tygerberg-kinderhospitaal bied baie ondersteuning aan kinders met TBM. Hulle moet soms vir so lank as 'n maand in die hospitaal bly voordat hulle huis toe kan gaan. Daarna moet die kinders maandeliks besoek aflê by die hospitaal totdat die behandeling afgehandel is.
"Die hospitaal is baie sorgsaam en is 'n lewenslyn vir baie families," sê Solomons.
Solomons hoop vir 'n wêreld waar niemand die risiko hoef te loop om TBM op te doen nie.
"TBM kan uitgeroei word as ons die verspreiding van TB kan stop. Ons moet begin met die tipe werk wat die Desmond Tutu TB-sentum van die US doen om bewustheid te skep van TB-voorkoming. Ek wil alle Suid-Afrikaners aanmoedig om bewus te wees van die tekens en simptome om TB te stop, sodat kinders nie aan TBM hoef te ly nie."
Professor Mariana Kruger, die uitvoerende hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid, sê sy ondersteun PhD-graduandi soos Solomons in die belangrike werk wat hulle doen.
"Wat so merkwaardig is van PhD-graduandi soos prof Solomons is dat hulle voltydse dokters is, wat daaglik na kinders omsien en hul navorsing en aktiewe diens suksesvol kombineer."