Skip to main content
Suksesvolle Opedag vir Fakulteit Opvoedkunde

Suksesvolle Opedag vir Fakulteit Opvoedkunde

Media: Opvoedkunde / Education
09 Maart 2016

​Die Universiteit Stellenbosch het onlangs 'n suksesvolle Opedag aangebied, met ongeveer 10 000 Graad 11- en Graad 12-leerders, ouers en onderwysers wat die dag bygewoon het.

Dit was die tweede jaar wat die Opedag op ʼn Saterdag gehou is.

By die Fakulteit Opvoedkunde was die eerste twee inligtingsessies só vol dat mense op die grond moes sit, en die sakke wat aan voornemende studente uitgedeel is, was teen middagete al op.

Die Fakulteit se studentekomitee het mense voor die gebou verwelkom, terwyl verteenwoordigers van verskillende departemente en sentrums in die fakulteit - Kurrikulumstudies, Opvoedingsbeleidstudies, Opvoedkundige Sielkunde en SciMathUS - gereed gestaan het om vrae te beantwoord.

Die Departement Sportwetenskap het ook aktiwiteite aangebied by sy fasiliteite op Coetzenburg.

Volgens Michelle Swart, Bestuurder: Media en Bemarking by die Sentrum vir Studentewerwing, het die besluit om Opedag op 'n Saterdag te hou definitief 'n positiewe uitwerking.

"Ons kry wonderlike terugvoer vanaf veral ouers wat in die verlede nie noodwendig die dag saam met hulle kinders op kampus sou kon deurbring nie."

Sy het gesê dit is moelik om verlede jaar en vanjaar se getalle te vergelyk, maar uit die terugvoering wat hulle vanaf fakulteite ontvang het, was die belangstelling groter as wat verwag is.​​

Klik hier vir meer inligting oor studierigtings en om aansoek te doen.