Skip to main content
Suksesvolle borsvoeding by die werk laat samelewings werk

Suksesvolle borsvoeding by die werk laat samelewings werk

Lisanne du Plessis & Lynette Daniels
26 Augustus 2024

Werkende ma's vind dit dikwels uitdagend om borsvoeding met voltydse werk te kombineer en daarmee voort te gaan, veral as werkplekke nie borsvoeding of die uitdruk van moedersmelk ondersteun nie. Alle moontlike pogings moet aangewend word om te verseker dat vroue toegang tot borsvoedingsondersteuning by die werk en in alle ander omgewings het. Só skryf prof Lisanne du Plessis en dr Lynette Daniels (van die Afdeling Menslike Voeding in ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian ter viering van Vrouemaand.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

​Lisanne du Plessis en Lynette Daniels*

Borsvoeding is een van die mees natuurlike en beskermende dinge wat ma's kan doen om hulle babas te koester en ʼn band met hulle te vorm. Internasionale navorsing van hoë gehalte het getoon dat borsvoeding gesonde breinontwikkeling kan bevorder, intelligensietellings kan verhoog, asook beskerming teen kinderinfeksies en die dood kan bied. Dit verminder ook die risiko vir vetsug en chroniese siektes later in die lewe, soos diabetes, in beide lae- en hoë-inkomstelande. Ander studies het getoon dat borsvoeding ook wanokklusie voorkom (foutiewe sluiting van die gebit tussen die bo- en onderkaak).

Vir vroue bied borsvoeding beskerming teen borskanker, eierstokkanker, tipe 2-diabetes en hartsiektes. Dit verbeter ook geboortespasiëring (wat ʼn spesifieke hoeveelheid tyd tussen swangerskappe toelaat). In die lig van die goed gedokumenteerde openbare gesondheidsvoordele van borsvoeding kan ondersteuning daarvoor beter ma- en kindergesondheid, laer gesondheidsorguitgawes, groter produktiwiteit by die werk en sterker nasionale ontwikkeling meebring.

Die verskaffing van toeganklike, billike ondersteuning van hoë gehalte aan alle vroue wat wil borsvoed, is dus ʼn gesonde maatskaplike belegging. Dit kan groot gewin met langdurige voordele vir kindergesondheid en -ontwikkeling verseker.

Ongelukkig word slegs 32% van babas onder die ouderdom van ses maande in Suid-Afrika eksklusief geborsvoed​. Dit is strydig met die aanbeveling van gesondheidsowerhede wêreldwyd dat babas uitsluitlik vanaf geboorte tot ses maande geborsvoed moet word, waarna ander voedsame kosse in die kind se dieet ingebring moet word terwyl borsvoeding nog twee jaar en langer behoort aan te hou.

Die sukses van borsvoeding is egter nie die uitsluitlike verantwoordelikheid van ma's nie, maar betrek talle verskillende belanghebbendes. Ma's het die ondersteuning van hulle lewensmaats, gesinne, gemeenskappe, gesondheidsorgfasiliteite, die regering en werkplekke nodig. Met Vrouemaand in volle swang is dit belangrik dat ons oor borsvoeding in die werkplek praat. Ma's wêreldwyd het werk as een van die grootste hindernisse vir eksklusiewe en voortgesette borsvoeding geïdentifiseer. Dit is ʼn hoofrede om nie te borsvoed nie, of om vroeg daarmee op te hou.

Werkende ma's vind dit dikwels uitdagend om borsvoeding met voltydse werk te kombineer en daarmee voort te gaan, veral as werkplekke nie borsvoeding of die uitdruk van moedersmelk ondersteun nie. ʼn Studie het getoon dat ondersteuning vir borsvoeding by die werkplek in Suid-Afrika beperk en onvoldoende is. Die uitdagings wat ma's by die werk ervaar, sluit in die gebrek aan tyd om te borsvoed of melk uit te druk, veral as werkgewers daarop aandring dat tee- en middagetepouses vir die uitdruk van moedersmelk gebruik moet word.

In Suid-Afrika word die voorsiening van tyd om te borsvoed en/of borsmelk uit te druk aanbeveel kragtens Artikel 87(1) (b) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 75 van 1997, Goeie Praktykkode oor die beskerming van werknemers tydens swangerskap en na die geboorte van ʼn kind. In subartikel 5.13 word verklaar dat “reëlings getref moet word sodat werknemers wat borsvoed elke werksdag vir die eerste ses maande van die kind se lewe twee keer per dag pouses van 30 minute vir borsvoeding of die uitdruk van melk moet kry". Ongelukkig heers ʼn gebrekkige bewustheid van dié borsvoedingstyd-aanbeveling by werkplekke en werknemers.

ʼn Gebrek aan ruimtes vir borsvoeding is nog ʼn uitdaging, met ma's wat dikwels ʼn badkamer moet gebruik om borsmelk uit te druk. Ander uitdagings sluit in werkgewers, toesighouers en personeel wat nie ondersteunend is nie, ʼn gebrek aan kommunikasie oor borsvoeding en ma's se behoeftes, asook vrees om met toesighouers te kommunikeer. Daarbenewens ervaar moeders dikwels konflik tussen werkseise en hulle baba se borsvoedingsbehoeftes, wat emosionele stres veroorsaak. As vroue nie ondersteun word nie, begin hulle dikwels kommersiële melkformulevoeding gebruik wanneer hulle terugkeer werk toe of begin hulle met gemengde voeding.

Vroue moenie hoef te kies tussen borsvoeding van hulle kinders en hulle werk nie. Die ondersteuning wat ʼn vrou betreffende werkplekreëlings ontvang, is dus van kardinale belang om haar in staat te stel om met borsvoeding voort te gaan en om hierdie hindernisse te oorkom. Die voorsiening van ondersteunende werkplekpraktyke vir borsvoeding het getoon dat dit werkende moeders se vermoë verbeter om met borsvoeding aan te hou terwyl hulle werk.

Ondersteunende borsvoedingspraktyke by die werk kan die volgende insluit:

  • ontwikkeling van beleide om borsvoedende moeders in die werkplek te ondersteun;
  • om aan swanger vroue tyd te gee om voorgeboortelike klinieke by te woon of by voorgeboortelike besoeke teenwoordig te wees;
  • opvoeding van alle personeel, bestuurders en medewerkers oor die voordele van borsvoeding en die aanbevole borsvoedingstyd;
  • interpersoonlike kommunikasie voor en ná kraamverlof om die ma se behoeftes te bespreek;
  • opvoedkundige materiaal of toegang tot professionele borsvoedingsondersteuning;
  • voorsiening van ʼn privaat area (NIE ʼn badkamer nie) vir vroue om te borsvoed of melk uit te druk;
  • die beskikbaarstelling van tyd en 'n buigsame beleid om borsmelk by die werk uit te druk;
  • om werkende ma's van opsies te voorsien wanneer hulle terugkeer werk toe, soos om deeltyds te werk, werk te deel of kraamverlof te verleng;
  • die verskaffing van kindersorgfasiliteite op die terrein of naby die werk.

Hierdie belangrike praktyke moet in werking gestel word om te verseker dat vroue in staat gestel word om so lank as wat hulle wil te borsvoed en om ʼn ondersteunende werksomgewing aan hulle te bied.

Daarbenewens is daar ʼn dringende behoefte vir voorspraak vir die voordele van borsvoedingsondersteuning in die werkplek by werkgewers, werknemers en die samelewing as geheel, sowel as vir die borsvoedingsregte van vroue in die werkplek. Alle moontlike pogings moet aangewend word om te verseker dat vroue toegang tot borsvoedingsondersteuning by die werk en in alle ander omgewings het. Dit is ʼn wyse en haalbare belegging in die toekomstige gesondheid en ontwikkeling van ons gemeenskappe en ons land.

*Prof Lisanne du Plessis is ʼn medeprofessor en dr Lynette Daniels ʼn senior dosent in die Afdeling Menslike Voeding, Departement Globale Gesondheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.