
Suid-Afrikaners wil 'n nuwe land hê - Zackie Achmat
“Ons wil nie die post-1994 Suid-Afrika red nie – ons wil 'n nuwe land hê."
Só het die aktivis en mede-stigter van die Treatment Action Campaign (TAC) Zackie Achmat onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) Museum op die Stellenbosch-kampus gesê. Hy het op Woensdag (11 Oktober 2017) 'n spesiale lesing gelewer oor 'The Constitution as an Instrument for Social Justice and Transformation: the Courts as Sites for Social Activism'.
Die lesing is deur die Navorsingleerstoel in Historiese Trauma en Transformasie aan die US as deel van die maandelikse Openbare Dialoog-lesingreeks in samewerking met die US Museum georganiseer.
Achmat, wat hom beywer het vir toegang tot gratis anti-retrovirale middels vir mense met MIV/Vigs, was krities teen oor die staat en het gesê dit steun op geld, meesal maatskappyebelasting, om te doen soos dit wil. Hy het hierdie gedrag as 'n vorm van “wettelose dissipline" beskryf.
“Die staat tree só op dat hy steeds die belasting kry wat nodig is en dit dan gebruik in die verdeling van rykdom en arbeid. In kort: staatskaping."
Achmat meen die kaping van die intellektueles, van denke is egter erger as staatskaping.
Hy het ook uitgewys hoe sommige hul ras gebruik (om posisies en invloed te verkry) net om ander mense dan rasse- en ander gelykheid te ontsê.
In die verband het Achmat die Metrorail-verhaal – beginnende by die stigting van die Rail Commuters Action Group in die vroeë 2000s tot by die onlangse verlede, met die uitlap van die grootskaalse korrupsie wat onder die vorige PRASA-hoof Lucky Motana gepleeg is – uitgelig.
Die lesing is gevolg deur 'n vraag-en-antwoord-sessie wat deur prof Pumla Gobodo-Madikizela, Bekleër van die Navorsingleerstoel in Historiese Trauma en Transformasie aan die US, gefasiliteer is. Kwessies soos studente-aktivisme, navorsing in die post-moderne era, die verdeling van swart- en bruinmense in die Wes-Kaap en die afwesigheid van bruinmense in politiek het onder die loep gekom.
“Zackie is al 'n voorloper in veldtogte vir sosiale geregtigheid sedert sy politieke en gemeenskapswerk by TAC," het Gobodo-Madikizela gesê.
“Hy het 'n ongelooflike diep kennis oor hoe die probleme op politieke vlak uitspeel en gemeenskappe op voetsoolvlak raak. Dit is omdat hy nie 'n 'lessenaar'-aktivis is nie, maar ten volle betrokke is by die gemeenskappe wat die ergste gevolge moet dra van onverantwoordelike regering. Sy lesing bewys dit," het sy bygevoeg.