
Studente vier Kultuurdag
Internasionale studente wat die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum se intensiewe Engels- program, die Intensive English Programme (IEP), volg, het Kultuurdag vanjaar op 18 Mei op ʼn besonderde en opwindende manier gevier.
Die Verenigde Nasies het 21 Mei van elke jaar as Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit vir Dialoog en Ontwikkeling verklaar, en op hierdie manier ʼn dag uitgesonder om ons die geleentheid te gee om tot ʼn dieper begrip te kom van die waarde van kulturele diversiteit en om te leer hoe om in harmonie saam te leef. Die IEP-studente het die geleentheid om hierdie dag by die Universiteit te vergestalt aangegryp, al was dit ʼn paar dae voor die amptelike datum.
Die geleentheid het plaasgevind by die Khaya (Kruiskerk), op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat, waar groepe IEP-studente die algemene konsepte van hul oortuigings, waardes en kulture verken het. Verteenwoordigde lande was Libië, China, Saoedi-Arabië, Mosambiek, Iran, Switserland, Suid-Korea, die Kongo, Kameroen en Gaboen.
Uitstallings in verskeie stalletjies het die kulture van die verskillende etniese groepe uitgebeeld, met die klem op groepe se gebruike, tradisies en kos. Verder het elke groep voorgestel hoe hulle met hul kultuur identifiseer.
Die organiseerders sê die geleentheid was goed ontvang.
"Hierdie jaar het ons die graad 10-leerders van Rhenish Girls' High School as welkome besoekers verwelkom. Die meisies was baie entoesiasties en dit het gelyk of hulle die interaksie met die IEP-studente terdeë geniet. Ons het baie positiewe terugvoer oor die geleentheid ontvang," sê Deena Raghavjee, programkoördineerder van die intensiewe Engels- program.
"Ons het dit geniet om tussen die stalletjies vir elke land, waar ons kon tradisionele disse proe en vrae vra, deur te loop. Wat ons die meeste van hierdie IEP-studente beïndruk het, was hulle vermoë om ʼn aanbieding voor ʼn groot gehoor van omtrent vyftig mense te doen. Dít is iets wat ek van elkeen van hulle bewonder; ek kan my net indink hoe uitdagend dit was," sê Chiara de Franchi 'n Graad 10-leerling van Rhenish Girl's High School.
Caleigh Plaatjes skryf: "Hierdie kultuurdag was ʼn merkwaardige manier om van verskillende lande, kulture en tradisies te leer en veral om elke plek se plaaslike kos te eet (dit was ons gunstelingdeel van die uitstappie!). My oë het oopgegaan en ons was só bevoorreg om so ʼn skitterende geleentheid te kon bywoon."
"Ons (die graad 10's) het dit vreeslik baie geniet om kos van verskillende lande te proe, soos akkerjellie van Suid-Korea, Chinese noedels en Switserse kaasfondue... Ons het baie pret gehad en sommer ook uitgeblink in die vasvra en danse, en met algemene kennis," sê Micaela Budge.
"Ons Kultuurdag was ʼn geleentheid waarin studente en mentor-dosente baie ure belê het en iets wat tot stand gekom het deur nougesette beplanning, inoefenings en kruiskulturele spanwerk. Daarom was die uitkoms werklik merkwaardig, met pryse wat volgens spesifieke kriteria aan die top drie groepe toegeken is. Die voorstellings was ʼn wonderlike geleentheid vir die studente om met die gehoor te deel hoe hulle kultuur verstaan – ook hoe hulle hulself verstaan – en sodoende het hulle ook hul taalvaardigheid in Engels verskerp," het Raghavjee bygevoeg.