
Studente kry ‘n voorsmakie van ware gesondheidsorg – en is mal daaroor
Eerstejaarstudente aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch het die geleentheid gehad om 'n paar van die Wes-Kaapse gemeenskappe te ontmoet wat hulle gaan bedien sodra hulle gekwalifiseerde gesondheidsberoepslui is.
As deel van die Gesondheid in konteks-module in hulle kurrikulum, het eerstejaarstudente van die mediese- (MB,ChB), fisioterapie- en menslike voeding-programme op 'n "Amazing Race" gegaan waartydens hulle huishoudings, gemeenskappe, nie-regeringsorganisasies, klinieke en hospitale in 20 verskillende gebiede in die Wes-Kaap besoek het.
"Gedurende die eerste vier maande leer studente die teorie wat handel oor wêreldsienings, spanwerk, rehabilitasie, die maatskaplike bepalende faktore van gesondheid, die siektelas en die gesondheidstelsel. Die akademiese leerervaring loop dan uit op die 'Amazing Race', waartydens hulle die akademiese raamwerk in die regte lewe ervaar," het dr Bart Willems, Openbaregesondheidspesialis by die Wes-Kaapse Regering: Gesondheid, gesê.
Die dag het ook 'n groot indruk op studente gemaak, en baie van hulle het kommentaar gelewer oor hoe inspirerend dit was, en dat die ervaring hul keuse in die gesondheidsberoepe bevestig het.
"Dit is 'n ongelooflike leerervaring," het een student gesê. "Dit is maklik om die rede waarom jy medies kom studeer het uit die oog te verloor as jy net elke dag in lesings sit. Om aktief buite in die gemeenskap te wees het my herinner aan waarom ek hier is en nou is ek meer oorgehaal as ooit."
Nog 'n student het gesê: "Deur in die gemeenskappe rond te loop het my perspektief gegee op al die faktore wat 'n invloed het op gesondheid. Dit het my ook insig gegee oor hoe gesondheid in die gemeenskap geintegreer is – elke ander aspek in 'n pasiënt se lewe het 'n invloed op gesondheid, en ook op hoe hy of sy gesondheidsorg ontvang."