Skip to main content
Studente deel hul eerste indrukke van die US

Studente deel hul eerste indrukke van die US

Rozanne Engel / Corporate Communication
23 Februarie 2018

“Die stem van die student moet nooit onderskat word nie." Dit is wat Anthony Andrews, Speaker van die Studenteparlement en voorsitter, Woensdag 21 Februarie beklemtoon het by die #FirstImpressions-besprekingsgeleentheid wat by die Stellenbosch Universiteitsmuseum gehou is.

Die bespreking is deur die Akademiese Belangeraad – wat primêre verantwoordelik is vir die verteenwoordiging en beskerming van studente se akademiese belange aan die Universiteit Stellenbosch (US) – georganiseer en het studente en ʼn paneel verteenwoordigers uit verskillende Universiteitsafdelings die geleentheid gegee om met mekaar in gesprek te tree. Die doel van die #FirstImpressions-bespreking was om dialoog oor studente se indrukke van die US en die kwessies wat hulle raak, aan te wakker. Inklusiwiteit, verteenwoordiging en studentesteun was die vernaamste temas.

Een van die paneellede, me Christelle Feyt, Senior Direkteur: Voornemende Studente, het die belangrikheid van die US se strategiese boodskap, wat klem lê op die skep van 'n inklusiewer en diverser kampus, herhaal: “Een van die uitdagings wat die Universiteit in die gesig staar is om genoeg ruimte te skep vir kwesbaarder studente wat moeilike finansiële omstandighede beleef en uit omgewings kom waar hulle weinig tot geen toegang tot opvoedkundige hulpbronne gehad het voordat hulle na die US gekom het."

Nog 'n bekommernis wat deur die studente uitgedruk is hou verband met die gebrek aan bekostigbare behuising en finansiële steun aan diegene wat nie studentehuisvesting op kampus kan bekostig nie. Dr Celeste Nel, Hoof: Toelating en Koshuisplasing, het studente verseker dat strategiese maatreëls ingestel word om hierdie probleem te verlig. “Die bedoeling is om seker te maak dat meer studente op kampus geakkommodeer kan word, maar die realiteit is dat daar nie genoeg bekostigbare akkommodasie of selfs logistieke ruimte vir alle studente in Stellenbosch is nie. Ons is besig om die behoeftes van veral studente wat baie ver van die kampus woon, te prioritiseer, maar daar is ook uitdagings hieraan wat ons hoop om met verloop van tyd op te los," het dr Nel verduidelik.

Die gesprek het dit duidelik gemaak dat daar ʼn baie definitiewe behoefte aan die koestering van ʼn inklusiewe omgewing aan die US is en dat daar voortdurend geleenthede geskep moet word vir dialoë soos #FirstImpressions.

Die gesprek het ook die gordyn laat sak op die #FirstImpressions-uitstalling – 'n gesamentlike projek met die US Museum, wat deur die idee van ʼn wensput geïnspireer is. Die interaktiewe, vervormende kunsinstallasie het nie alleen as 'n inleiding tot die Museum vir nuwelingeerstejaars gedien nie, maar ook vir die hele US-gemeenskap, alumni en die algemene publiek.

Oor die voorafgaande maand is elkeen wat die uitstalling besoek het 'n kaartjie gegee. Hulle is gevra om hul eerste indrukke van Stellenbosch aan die een kant neer te skryf en aan die ander kant hul wense vir Stellenbosch vir die komende 100 jaar. Hierdie wense kon dan in die 'put' op die Museum se eerste verdieping gegooi word.