Skip to main content
Studente bied suksesvolle "Broodjiedag" aan

Studente bied suksesvolle "Broodjiedag" aan

Jacky Dickason
28 April 2016

​By die Universiteit Stellenbosch is sosiale impak net so belangrik soos onderrig en leer of navorsing en innovasie, en studente word aangemoedig om uit te reik na die gemeenskap.

Jacky Dickason, die Fakulteit Opvoedkunde se studentekomiteelid vir gemeenskapsinteraksie, verduidelik wat die doel van die onlangse "Broodjiedag" was:

"Aangesien almal in die Fakulteit Opvoedkunde studeer om onderwysers te word, het ons gedink dit is gepas dat alle gemeenskapsprojekte met skole geassosieer word. Dit skep onmiddellik daardie konneksie wat ons na aan die hart lê.

"Verlede jaar se Broodjiedag was ’n reuse-sukses en ons het besluit om dit vanjaar weer te doen. Ons teiken was 200 broodjies wat ons dan aan 'n plaaslike skool in Idasvallei, Stellenbosch, sou skenk.

"Ons het voelers uitgesteek na mense binne en buite die fakulteit en ons het fantastiese reaksie gekry. Die Cell C-tak in Claremont was baie vrygewig en het appels en piesangs vir die kinders geskenk, sowel as broodjiehouers en ’n gazebo vir die dag. Inqua-Med het handsaniteringseep en handskoene geskenk om te verseker dat skoon hande gebruik is om die broodjies te maak.

"Die dag was ’n groot sukses en meer as 400 broodjies is gemaak en aan leerders uitgedeel. Ons wil al die studente en borge wat betrokke was, bedank. Sonder hulle sou die dag nie moontlik gewees het nie. In die woorde van Mahatma Ghandi: "Be the change you wish to see in the world".