Skip to main content
Student se onderneming bestem vir internasionale blootstelling

Student se onderneming bestem vir internasionale blootstelling

Daniel Bugan
21 Oktober 2022

Gafsa Adam, 'n finalejaarstudent in Volhoubare Ontwikkeling, het vroeë sukses as entrepreneur behaal nadat haar juweliersonderneming gekies is om op die Amerikaanse aanlyn markplek ShopConsciously te verskyn, waar dit aan internasionale markte blootgestel sal word.

Adam is gekies nadat sy 'n 12 week lange opleidingsprogram voltooi het wat deur Women Enabled Enterprises (WEE) aangebied is. WEE is 'n besigheidsinkubator wat daarna streef om vroue met 'n lae inkomste en hoë potensiaal te help om 'n klein besigheid te begin of te laat groei om hulself te onderhou. Hulle doen dit deur middel van virtuele, selfoongebaseerde, grondslag- besigheidsopleiding, bedryfspesifieke nagraadse ondersteuning en mikro-befondsing.

WEE het die Skool vir Publieke Leierskap, wat 'n drie jaar lange Diploma in Volhoubare Ontwikkeling aanbied, gekontak oor studente wat bereid sou wees om aan die program deel te neem. Die Skool het toe studente wat bestaande besighede bedryf, aangemoedig om aansoek te doen.

Adam, wat haar onderneming Little Tiger Jewellers in September 2021 begin het “omdat dit reeds 'n stokperdjie was en ek mal is oor wat ek doen," het die uitdaging aanvaar.

“Ek het aansoek gedoen, maar ek het nie gedink ek sou aanvaar word nie omdat dit gelyk het of die vereistes vir aanvaarding te streng vir my onderneming was. Ek het amper daarvan vergeet toe ek skielik 'n e-pos ontvang dat ek vir die 2022 WEE-opleidingsprogram aanvaar is."

Die opleiding het deelnemers toegerus met die basiese vaardighede om hul besigheid winsgewend te bestuur. Dit het onderwerpe soos ideeformulering, gereedheid, markontleding, bemarkingstrategieë en finansiële beplanning gedek.

Teen die einde van die opleidingsprogram is deelnemers gevra om 'n besigheidsvoorstel op te stel wat hulle aan ShopConsciously moes voorlê.

Adam sê die hulp wat sy van WEE ontvang het om haar sakemodel te verfyn en haar voorlegging te verbeter, het 'n groot rol daarin gespeel dat sy uiteindelik deur ShopConsciously gekies is.

“My besigheid is gekies weens my produkte wat almal met die hand gemaak word en die sosiale impak daarvan – ek maak net gebruik van plaaslike verskaffers en volhoubare verpakkingsmateriaal."

Die 22-jarige se juweliersware sal in die Amerikaanse herfs op die ShopConsciously-e-handelswerf bemark word.

WEE gaan ook einde Oktober haar besigheid en produkte in die VSA bemark.

Sy kyk egter wyer en het groot planne om haar sosiale voetspoor te vergroot.

“Ek hoop om Little Tiger Jewellers as 'n sosiale onderneming te vestig wat ook werkswinkels aanbied om jeugdiges op te lei in die ontwerp van juweliersware, finansiële intelligensie, entrepreneurskap en bemarking. Ek hoop my besigheid sal 'n konsekwente en blywende impak op gemeenskappe en die lewens van ons jeug hê."

Dié boorling van Pretoria het haar dankbaarheid teenoor almal wat haar op haar reis ondersteun het, betuig; veral “my oorlede tannie Saajeda Ali wat my geleer het om die juweliersware te maak wat ek vandag verkoop en my ouers omdat hulle altyd in my besigheid belangstel en vooraad vir my gekoop het om my besigheid te begin. Ek wil ook my lewensmaat bedank wat my gehelp het om my besigheidsnaam te vestig en dat hy my altyd ondersteun".

Dr Ruenda Loots, dosent en hoof van die diplomaprogram in Volhoubare Ontwikkeling, het gesê: “Ons moedig ons studente vanaf Dag 1 aan om hul 'waarom' te vind en dan daardie passie die wêreld in te neem. Sommige studente, soos Gafsa, het reeds 'n besigheid of idee wanneer hulle inskryf, terwyl ander dit langs die pad ontdek. Ons Diploma moedig studente aan om te eksperimenteer, te speel, inisiatief te neem en te leer deur te doen – presies wat Gafsa gedoen het! Dis 'n voorreg om studente soos Gafsa in hierdie reis te ondersteun."

  • ​Die Diploma in Volhoubare Ontwikkeling onderrig studente in die beginsels van volhoubaarheid en entrepreneurskap vir toekomstige sosiale impak en ekologiese herstel. Dit verskaf teoretiese kennis en praktiese ervaring op gebiede soos volhoubare tegnologieë, kompleksiteit en ekologie, sosiale entrepreneurskap, leierskapontwikkeling, sosiale aktivering, kleinsakebestuursvaardighede, kreatiwiteit en storievertelling.