
Student deel passie vir volhoubaarheid op wêreldspitsberaad
Shaahid Kajee, ʼn vierdejaar- mediese student, het die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die Universiteit Stellenbosch (US) verteenwoordig by die negende jaarlikse Wêreldstudente-omgewingsnetwerk (World Student Environment Network [WSEN]) wat in Junie in die Verenigde Koninkryk (VK) aangebied is. Kajee, die nuut verkose ondervoorsitter van die Tygerberg Studenteraad en ʼn lid van die Groenkomitee op die Tygerberg-kampus, het die volgende oor sy ervaring geskryf.
"Die skrikbeeld van klimaatsverandering is lankal deur die publiek afgemaak as ʼn abstrakte begrip wat nog in die verre toekoms lê en waarvoor daar geen definitiewe oplossings en wilskrag is om veranderings aan te bring nie. Maar, met natuurlike rampe wat nou selfs in Suid-Afrika voorkom, kan klimaatsverandering nie meer geïgnoreer word nie en bestaande oplossings moet so vinnig moontlik geïmplementeer word.
Die universiteite van Sussex en Keel het hierdie beraad vanjaar aangebied teen die agtergrond dat klimaatverandering ʼn globale probleem is wat ʼn verenigde, globale aanslag verg en ek was bevoorreg om dit te kon bywoon. Die WSEN is ʼn organisasie wat deur studente vír studente bestuur word, wat ʼn internasionale platform beskikbaar stel vir kennisoordrag en vaardigheidsontwikkeling.
Vanjaar se tema was "Volhoubaarheid Tesame" en die klem is geplaas op die bemagtiging van studenteleiers en -aktiviste om hulle volhoubaarheidsprojekte te versterk en bewusmaking te skep met behulp van kundiges op die gebied.
Die spitsberaad het sterk gefokus op politieke en burgerlike ongehoorsaamheid as die dryfkrag vir volhoubare, verantwoordelike ontwikkeling. Kursusgangers het deur die loop van die week geleer hoe om besluitnemers se steun te werf om verandering te implementeer met sowel vyandige as nievyandige metodes in ʼn stapsgewyse benadering. Die VK se organisasie vir antirassisme, "Hope not Hate", het vaardigheidswerkswinkels aangebied oor hoe om ʼn veldtog se teenstanders te isoleer en strategieë wat gebruik kan word om groot groepe mense deur sosiale media en misleidende inligting te verenig en te mobiliseer (ʼn vaardigheid wat BAIE versigtig en slegs as laaste uitweg gebruik moet word!).
Een van die vele hoogtepunte van hierdie spitsberaad was om die VK Groenparty se adjunkleier, me Amelia Womack, te ontmoet. Sy die jongste adjunkleier van ʼn politieke party in die VK ooit. Sy het in haar werkswinkel vertel hoe om volhoubare ideale by alle aspekte van openbare regeringsbestuur in te sluit en hoe om van klimaatsaktivisme ʼn beroep te maak.
Die programrede is deur mnr Paul Allen van die Sentrum vir Alternatiewe Tegnologie gelewer en was stellig die beste lesing van die beraad. Hy het ʼn model voorgehou om koolstof in Brittanje heeltemal uit te skakel – "Zero Carbon Britain". Allen is ʼn kenner op die gebied van alternatiewe tegnologieë en ʼn sterk voorstander van die 'afskakeling' van ons hoë-energie-leefstyle, terwyl ons oplossings toepas om ons huidige leefstyle te onderhou. Sy model vir "Zero Carbon Britain" en sy baanbrekersnavorsing is al by vele klimaatsveranderingkongresse van die Verenigde Nasies aangebied.
Een van die talle negatiewe kommentare oor alle volhoubaarheidskongresse is dat daar gewoonlik 'baie praat en min daad' is. Gedurende een van die werkswinkels oor groen ontwikkeling het ek en my span – bestaande uit Suid-Afrikaanse, Peruaanse en Kanadese kursusgangers – ʼn model ontwikkel vir energie-oorgang en energie-geregtigheid wat aan die Barcelona Stadsraad voorgelê sal word vir oorweging. Indien hierdie model geïmplementeer word, sal dit een van die innoverendste energiebeleide in Europa wees.
In die algemeen was die spitsberaad ʼn wonderlike geleentheid om jong mense van oor die wêreld heen wat dieselfde belangstelling deel te ontmoet en om idees uit te ruil wat aan ons onderskeie lande oorgedra sal word. As die verteenwoordiger van die US was ek aangenaam verras om te sien dat ons instelling ʼn wêreldleier is betreffende die talle volhoubare beleide wat die US het, wat dikwels deur die hoogste vlak van die universiteitsbestuur uitgeoefen word.
Ek wil graag my hartlike dank oordra aan die Frederik van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling en die US se Ko-Kurrikulêre Ondersteuningsfonds wat hierdie besoek moontlik gemaak het en my die geleentheid gebied het om ons universiteit op die wêreldverhoog te verteenwoordig. Dit was waarlik ʼn waardevolle geleentheid."
Foto: Shaahid Kajee buite die Universiteit van Oxford se biblioteek.