
Strategiese doktorale vennootskap met Universiteit van Groningen
In sy strewe na omvattende internasionalisering het die Universiteit Stellenbosch (US) 'n netwerk van meer as 300 bilaterale vennootskappe met eendersdenkende instellings wêreldwyd opgebou. Dít is bereik deur funksionele skakeling, aktiewe samewerking en wedersyds voordelige, aanvullende, wederkerige en transformerende verhoudings. Een van die US se gewaardeerde vennote is die Universiteit van Groningen (UG) in Nederland.
Om te sorg dat die bestaande vennootskap tussen die US en UG tred hou met veranderende omstandighede, is die twee instellings tans besig om hulle samewerkingsooreenkoms te herevalueer en te herontwerp. Uit die US se oogpunt is die doel om op prioriteitsprojekte te konsentreer wat tot die Universiteit se strategiese doelstellings sal bydra. Die vennootskap sal vir die tydperk 2021 tot 2023 daarop toegespits wees om die getal gesamentlike grade tussen die US en UG te verhoog, “talentmobiliteit" te ondersteun, en nadoktorale studente aan te moedig om aan gesamentlike navorsingsprogramme deel te neem.
Die twee universiteite het op 30 Junie aanlyn ontmoet om die strategiese gesamentlike PhD-inisiatief te ontwikkel en maatreëls te bespreek om hulle bestaande samewerking, veral op die gebied van geneeskunde en gesondheidswetenskappe, uit te brei. Finansieringsmeganismes sal gesamentlik ontwikkel word, met 'n doelbewuste poging om kandidate op grond van bestaande navorsingsamewerking te identifiseer.
Die verhoging van die getal en gehalte van doktorale grade is 'n nasionale prioriteit in Suid-Afrika, en dié gesamentlike PhD-inisiatief sal baie daartoe bydra. Boonop sal die projek die byvoordele van gesamentlike studieleiding en uitgebreide studieleidingsvermoë bied en nadoktorale uitruilgeleenthede moontlik maak. Hoewel albei vennote finansiële bystand aan die inisiatief sal verleen, word navorsingsgroepe aan die US ook aangemoedig om hulle eie bykomende finansiering te bekom. Navorsers kan ook aansoek doen by die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se gesamentlike PhD-beursprogram deur Nuffic Neso, wat méér studente die geleentheid kan bied om toegang tot die US–UG-geleentheid te kry.
Vir verdere inligting oor die NNS-beursgeleentheid, klik hier. Vir meer oor die US se vennootskap met UG, kontak [email protected].