
Stelling ter meegevoel: Skending van Menseregte
As ‘n Sentrum wat daarna streef om die waardes van respek vir ander, die handhawing van menswaardigheid en gedeelde menslikheid te eerbiedig, is die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) by Universiteit Stellenbosch geskok deur die verlies van lewe, menswaardigheid, en die gevoellose minagting van menseregte met die afsterwe van 94 mense onder die staat se sorg. ‘n Samelewing se moraliteit word bepaal deur sy vermoë om aan die basiese behoeftes van kwesbare en weerlose groepe te voorsien en ons is verpletter dat hierdie kwesbare mense van hul basiese grondwetlike regte om gevoed te word, om skoon te wees, om veilig te wees, om beskut te wees en om te lewe ontneem is. Die SSVO wil graag ons innige meegevoel deel met die families en geliefdes van die oorledenes.