Stellenbosse afvaardiging by kontakseminaar in Leipzig
'n Groep akademiese en steundienstepersoneel van die Universiteit Stellenbosch (US) het van 23 tot 29 Junie die Universiteit van Leipzig, Duitsland, vir 'n tweede kontakseminaar tussen die twee universiteite besoek nadat die eerste in November 2018 by die US aangebied is.
“Strategiese vennootskappe soos dié een tussen Leipzig en die US verg persoonlike kontak tussen mense om verder te ontwikkel, veral in die hedendaagse digitale wêreld," het dr Svend Poller, hoof van die Internasionale Kantoor van die Universiteit van Leipzig, in sy verwelkoming aan die US-afvaardiging gesê. Robert Kotzé, die senior direkteur van US Internasionaal en leier van die Stellenbosse afvaardiging na Leipzig, het dít beaam. Hy het die kontakseminaar 'n goeie voorbeeld van “kennisdiplomasie" genoem en klem gelê op die kernrol van die internasionalisering van die hoër onderwys om begrip tussen verskillende kulture en nasies aan te moedig.
Die week lange sessie het heelwat geleenthede vir deelnemers opgelewer. So byvoorbeeld beplan dr Marina Joubert, senior wetenskapkommunikasienavorser by die US se Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (SENWET), en prof Alexander Godulla, professor in Empiriese Kommunikasie en Medianavorsing by Leipzig, reeds om in 2020 met 'n gereelde onderriguitruil oor kommunikasiewetenskap, veral die digitale storievertelkuns, te begin. Boonop wil hulle gesamentlik 'n navorsingsprojek ontwikkel wat sal ondersoek hoe jong wetenskaplikes beter met die publiek oor hulle navorsing kan kommunikeer.
Die US-personeel het ook as deel van hulle besoek op 26 Junie 'n netwerk- en inligtingswerksessie van Erasmus+ bygewoon, waaraan 65 vakkoördineerders en ander belangrike rolspelers deelgeneem het. Hier het deelnemers die projekjaar in oënskou geneem en sienings oor vernuwende projek-implementering uitgeruil. Dertien nuwe koördineerders is verwelkom, en tien het die Erasmus+-gemeenskap vir eers vaarwel toegeroep. Die US is een van meer as 100 Erasmus+-vennote wêreldwyd.
Foto: Swen Reichhold