Skip to main content
Steinhoff Maties-krieketspeler gekies vir SA o.19-span

Steinhoff Maties-krieketspeler gekies vir SA o.19-span

Maties HP
08 Junie 2016

​Dit is nie die eerste keer dat hy vir hierdie eer in aanmerking kom nie, maar Steinhoff Maties-krieketspeler Ricardo Vasconcelos sal uiteindelik die geleentheid kry om sy land op o.19-vlak te verteenwoordig.

​Vasconcelos, 'n oudleerder van St Stithians Kollege in Johannesburg, is 'n eerstejaarstudent by die Universiteit Stellenbosch en is gekies vir die Suid-Afrikaanse o.19-span om teen Sri Lanka te speel.​​​

"Ek het nie verwag om gekies te word nie, maar dit is vir seker ’n doelwit wat ek al lank nastreef. Ek is al vier kere vantevore by die oefengroep van 25 spelers ingesluit en dit is wonderlik om uiteindelik vir die finale span gekies te word en die geleentheid te kry om my land te verteenwoordig."

Vasconcelos studeer BCom Bestuurswetenskappe en erken dat hy dit moeilik vind om tyd te maak vir sy studies én sy sport.

"Ek sukkel om 'n balans te vind tussen krieket en my akademie en ek moet nog die beste manier vind om dit te doen."

As 'n eerstejaarstudent kan Vasconcelos 'n groot rol speel in die toekoms van Maties Krieket, veral as 'n mens in ag neem dat verskeie senior spelers ná die vorige seisoen van Maties afskeid geneem het.

Hy geniet dit om vir Maties te speel en beskryf dit as 'n ervaring wat hy nie met iets anders kan vergelyk nie.

"Ek het van die eerste dag af gevoel ek is welkom en dat ek al die spelers en ook die hele afrigtingspan se ondersteuning het en dis hoekom ek dit nog so baie geniet."

Maties Krieket se afrigter, Andrew Wylie, het bygevoeg: "Ricardo het duidelik baie potensiaal getoon en het 'n baie goeie reputasie. Hy is tegnies goed georganiseerd en kan definitief oor die volgende paar jaar 'n belangrike rol vertolk. Hy is volwasse genoeg om sy spel oor verskillende toestande heen aan te pas en blyk baie gedrewe te wees om te presteer. Dit is baie belangrik dat hy vroeg leer om sy akademiese en krieketverantwoordelikhede te balanseer."

Die SA o.19-span vertrek op 17 Junie na Colombo.