
Steinhoff Maties Krieket se eerstejaars het groot drome
Drie eerstejaars in die Steinhoff Maties-krieketspan het 'n groot indruk gemaak by die onlangse Varsity-kriekettoernooi in Potchefstroom.
Brandon Glover, Kyle Simmonds en Soyisile Pono het 'n paar indrukwekkende vertonings gelewer en die trio is vir die Future Cup-span gekies. Die paaltjiewagter Pono het ook die toekenning vir Vangskoot van die Toernooi ontvang. Glover en Simmonds is albei boulers.
Volgens Simmonds, 'n bestuurswetenskappestudent, het hy 'n paar waardevolle lesse by die Varsity-kriekettoernooi geleer, byvoorbeeld dat 'n krieketwedstryd nooit verby is totdat die laaste bal geboul is nie.
"En maak nie saak hoe goeie speler jy eendag is nie, jy sal nooit groter as die spel wees nie," voeg Simmonds by.
Om in die Varsity-kriekettoernooi te speel, was vir Glover, 'n rekeningkunde-student, 'n ongelooflike ervaring.
"Ek het geleer jy moet regtig gedissiplineerd wees met jou lyn en lengte. Dit het my ook gewys hoe vinnig die spel binne 40 boulbeurte kan verander, en hoe jy die heeltyd moet konsentreer terwyl jy speel. Daar is geen plek vir oorgerustheid nie."
Pono, 'n BA-student, het geleer dat hy nooit sy opponente moet onderskat nie en dat hy elke wedstryd moet speel asof dit sy laaste is.
Sy ervaring by Maties Krieket was tot dusver baie positief.
"Die omgewing is baie professioneel, die fasiliteite is wonderlik en ons kry afrigting van hoë gehalte. Ek voel ek het na die regte plek gekom het om te groei as 'n krieketspeler.
"Ek wil die meeste maak van my geleenthede hier by Stellenbosch. Ek wil deurlopend presteer en tot die span se sukses bydra. Die standaard van krieket by die Universiteit Stellenbosch is baie hoog en daar is so baie goeie spelers. Dit is presies wat ek wou hê, want nou weet ek ek moet hard werk en toegewyd bly om aan te hou verbeter," sê Pono
Maties Krieket het hom in die afgelope paar jaar gevestig as een van die beste krieketklubs in die land.
"Ek het om verskeie redes na Stellenbosch gekom. Dit is 'n pragtige kampus en die feit dat dit 'n universiteitsdorp is, beteken die atmosfeer hier is spesiaal. Maties bied my die perfekte balans om my krieketloopbaan te bevorder en ook 'n goeie kwalifikasie te kry," sê Glover.
Simmonds wil graag nuwe vriende maak en alles van die studentelewe ervaar, op die veld en ook weg van die veld af.
"Ek hoop dat ons as span 'n nalatenskap sal agterlaat wat nuwe Maties kan navolg," voeg hy by.
Simmonds wil sy land graag in al drie formate van die spel verteenwoordig, terwyl Glover se langtermyndoelwit ook is om vir die Proteas te speel.
Fotokrediet:
Kyle Simmonds. Fotograaf: Christiaan Kotze/SASPA
Soyisile Pono: Fotograaf: Christiaan Kotze / SASPA
Brandon Glover. Fotograaf: Mario van de Wall/SASPA