Skip to main content
Statistiek en Aktuariële Wetenskap lewer eerste gesamentlike doktorsgrade

Statistiek en Aktuariële Wetenskap lewer eerste gesamentlike doktorsgrade

Daniel Bugan
22 Mei 2020

Die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap het onlangs sy eerste gesamentlike doktorsgrade in samewerking met twee Belgiese universiteite, Gent en die Katholieke Universiteit Leuven (KU Leuven), afgelewer.

Dié doktorsgrade is aan dr Carel van der Merwe, senior dosent in finansiële risikobestuur in die departement, en dr Sven Buitendag, van Capitec Bank toegeken.

Die aantal gesamentlike doktorsgrade wat tot dusver deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe afgelewer is, staan nou op vier. 'n Gesamentlike PhD-graad word voorafgegaan deur 'n samewerkingsooreenkoms tussen die doktorale navorser, PhD-promotors (minstens een by elke universiteit) en die onderskeie instellings.

Van der Merwe het sy gesamentlike doktorsgraad in Wiskundige Statistiek aan die US en in Ekonomie aan Gent Universiteit behaal. Sy openbare PhD-verdediging het op 14 Januarie 2020 in Gent plaasgevind. Sy promotors was proff Tertius de Wet (US), asook Koen Inghelbrecht en medepromotor Michèle Vanmaele van Gent Universiteit.

“As deel van die gesamentlike doktorsgraad moet 'n mens minstens ses maande by die vennootuniversiteit deurbring. Ek het Gent vier keer besoek – eers twee drie maande besoeke terwyl ek aan my PhD gewerk het en daarna twee besoeke vir die privaat en openbare verdediging van my doktorsgaad. Die deel waarvan ek die meeste gehou het, was om 'n internasionale universiteit te beleef en om saam met ander PhD-studente in die departement in Gent te werk," het hy gesê.

Van der Merwe se tesis handel oor visualiseringstegnieke binne die finansieringsomgewing asook kredietverspreidings.

“My studieleiers en eksaminatore het 'n beduidende invloed op die sukses en kwaliteit van die algehele tesis gehad. Ek is ook dankbaar teenoor die universiteit, fakulteit en departement vir hul ondersteuning by wyse van fondse en tyd."

Buitendag het sy gesamentlike doktorsgraad in Wiskundige Statistiek aan die US en in Wiskunde aan KU Leuven behaal. Sy PhD-verdediging het op 11 Februarie 2020 op Stellenbosch plaasgevind. Sy promotors was prof Tertius de Wet (US) en prof Jan Beirlant (KU Leuven).

“Ek is blootgestel aan die dinamika van navorsingsinstellings en navorsers wat wêreldwyd die pas aangee. Dit het 'n bydrae gemaak tot my instelling, akademiese vaardighede en die gehalte van die navorsing waarby ek betrokke geraak en geproduseer het," het Buitendag gesê.

Hy het die sukses van sy studies aan sy studieleiers toegeskryf wat “dit alles moontlik gemaak het en my op my akademiese reis gestuur en begelei het."

De Wet, 'n emeritusprofessor en voormalige voorsitter van die departement, het die volgende oor die twee navorsers gesê: “Carel en Sven is uitstekende studente, op akademiese vlak asook op die wyse waarop hulle hul nuwe omgewings kon hanteer. Hulle was en is steeds uitstekende ambassadeurs vir ons departement, fakulteit en universiteit. Die terugvoering van die toesighouers by beide instellings was dat hulle baie beïndruk was met die gehalte van albei. Hulle het beslis 'n baie positiewe indruk oor die kwaliteit van ons opleiding en studente geskep."

Hy het bygevoeg dat die blootstelling aan 'n ander omgewing en 'n ander akademiese styl en denkwyse besonder waardevol is vir 'n jong professionele persoon.

“Dit is 'n wonderlike manier waarop 'n mens 'n internasionale netwerk van samewerking kan begin bou. Ek is sterk ten gunste van sulke gesamentlike grade."

Prof Paul Mostert, voorsitter van die departement, het gesê dis baie belangrik dat die departement sy internasionale status uitbrei, veral deur middel van PhD-navorsing.

“Hierdie vennootskappe het aanleiding gegee tot 'n netwerk internasionale medewerkers waaruit die departement se onderrig en navorsing voordeel kan trek. Om twee studente te hê, van wie een 'n permanente akademikus is, wat hul gesamentlike PhD-grade aan twee verskillende universiteite in België verwerf, is 'n besondere prestasie. Die toekenning van sodanige grade op grond van gesamentlike ooreenkomste is 'n eerste vir die departement en hopelik die begin van vele meer in die toekoms."

Volgens Mostert het die departement tans nog 'n PhD-kandidaat wat vir 'n gesamentlike doktorsgraad met Gent Universiteit ingeskryf is, naamlik Luca Steyn.

Teen Maart 2020 het die US reeds 39 gesamentlike doktorsgrade toegeken, waarvan die meeste (sewe) in samewerking met die Vrije Universiteit Amsterdam, Nederland was. Altesaam 31 kandidate is tans vir gesamentlike PhD-grade by US ingeskryf.

  • Foto's verskaf.
  • Eerste foto: Dr Sven Buitendag se PhD-verdediging het op 11 Februarie 2020 in Stellenbosch plaasgevind. Saam met hom op die foto is sy promotors, professore Jan Beirlant van KU Leuven (links) en Tertius de Wet van die Universiteit Stellenbosch (regs).
  • Tweede foto: Dr Carel van der Merwe se PhD-verdediging het op 14 Januarie 2020 in Gent plaasgevind. Saam met dr Van der Merwe (in die middel) is (v.l.n.r.): proff Jan Annaert (Antwerpen Universiteit), Michèle Vanmaele (medepromotor, Gent Universiteit), Koen Inghelbrecht (promotor, Gent Universiteit), en Patrick van Kenhove (dekaan van die Fakulteit Ekonomie en Sake-administrasie, Gent Universiteit). Dr Van der Merwe se Stellenbosse promotor, prof Tertius de Wet, kon nie die geleentheid bywoon nie.