
Statebondstudente praat padlangs by Stellenbosse ACU-somerskool
Veertig studente van 22 Statebondlande het van 2 tot 10 Julie byeengekom vir die Vereniging van Statebonduniversiteite (ACU) se somerskool, wat vanjaar deur Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal aangebied is. Die deelnemers het meer geleer oor die politieke, maatskaplike en ekonomiese kragte wat die 20ste-eeuse politiek in Suid-Afrika gevorm het.
ACU het meer as 500 liduniversiteite in 50 lande deur die hele Statebond, wat beurte kry om die jaarlikse somerskool aan te bied. Dít was die US se eerste keer as gasheer van die skool, wat as 'n forum dien vir skakeling, samewerking, gesprekvoering en opvoeding.
Deelnemers het 'n stampvol program gehad met aanbiedings en besprekings oor die tema “Waarheid en versoening: van apartheid tot oorgangsgeregtigheid". Die somerskool is oop vir voorgraadse studente in hulle finale jaar, magisterstudente en PhD-kandidate by ACU-liduniversiteite. Voornemende deelnemers ondergaan 'n streng aansoek- en keuringsproses om een van die 40 plekke los te slaan en moet skriftelik motiveer waarom hulle die somerskool wil bywoon en watter moontlike impak dit op hulle toekoms sal hê. Meer as 700 aansoeke is vanjaar ontvang.
Trotse gasheer
Werner de Wit, die bestuurder van Kortprogramme in US Internasionaal se Sentrum vir Globale Skakeling, sê dit is 'n groot prestasie vir die US om die geleentheid te kon aanbied. “Dit was die eerste keer wat ons die geleentheid gekry het om gasheer te speel. Boonop is dit 'n kans wat ons waarskynlik nie gou weer sal kry nie, as 'n mens in gedagte hou dat die somerskool elke jaar in 'n ander land plaasvind, en dat daar 500 instellings is wat om die geleentheid meeding. So, om dit vanjaar te kon aanbied was baie spesiaal en merkwaardig."
Die somerskool strook goed met die US se kern strategiese temas van 'n transformerende studente-ervaring en die bevordering van samewerking deur doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke. “Noudat ons hierdie diverse groep deelnemers van oor die hele Statebond by die US ontvang het, sal van hulle hopelik terugkeer en dalk nagraadse navorsing hier kom onderneem of ander van ons vertel," voeg Werner by.
Waardevolle lesse om huis toe te neem
Studente het die hele week deur boeiende lesings bygewoon waarin toonaangewende akademiese kenners hulle deur Suid-Afrika se komplekse geskiedenis begelei het. Onder die aanbieders was dr Schalk van der Merwe van die US se Departement Geskiedenis, dr Anell Daries van die US se Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Soeke na Herstel, en dr Glenda Cox, die bekleër van die UNESCO-leerstoel in oop onderwys en sosiale geregtigheid aan die Universiteit van Kaapstad.
Volgens Schalk, 'n dosent in Afrika- en Suid-Afrikaanse geskiedenis en 'n akademiese koördineerder by US Internasionaal, was die doel van die aanbiedings om deelnemers 'n beter begrip van oorgangsgeregtigheid in Suid-Afrika te bied. “Die deelnemers het elk op hulle eie manier met sosiale geregtigheid in hulle onderskeie gemeenskappe te doen," verduidelik Schalk. “Om hulle die geleentheid te bied om te leer hoe Suid-Afrika sy oorgang gemaak het van 'n traumatiese en outoritêre stelsel om die een of ander vorm van 'n post-apartheidsamelewing en geregtigheid tot stand te bring sal hulle hopelik help verstaan watter trauma in hulle eie omgewings deur sosiale geregtigheid hanteer moet word."
Tussendeur hulle akademiese program het deelnemers ook geleentheid gehad om die plaaslike omgewing te verken met uitstappies na die Kaap die Goeie Hoop-natuurreservaat en 'n Stellenbosse kelder.
G'n wegskrammery nie
Deelnemer Michelle Canning, 'n voormalige joernalis wat tans deeltyds aan Ulster-universiteit in die Noord-Ierlandse hoofstad Belfast vir 'n regsgraad in genderkonflik en menseregte studeer, sê sy het veral die reguit gesprekke gedurende die sessies waardeer. “Waar ek vandaan kom, word daar nie gesprek gevoer oor slawerny en kolonialisme nie. Dit is werklik moelik vir ons om oor die nalatenskap van konflik en die hantering daarvan te praat, en totdat ons dit regkry, sal daar nie genesing en versoening wees nie. So, net om hierdie gesprekke oor konflik en pyn tussen mense uit verskillende omstandighede te kon beleef was 'n fenomenale en massiewe geleentheid, en ek hoop ek kan iets daarvan met my saamneem huis toe."
ACU is in 1913 gestig en is die wêreld se eerste en oudste internasionale universiteitsnetwerk wat as platform dien vir universiteite om inligting, kennis en idees uit te ruil.