SSW ontsluit talent in Delft skole
Die Sentrum vir Studentewerving- en Loopbaanadvies (SSW), het vir 28 top-presteerders van 6 Delft-skole, wie aan die Blue Bus Ministries se Suksesklub deelneem, ʼn kampusbesoek aangebied:
- Simunye Hoërskool
- Masibambisane Hoërskool
- Hindle Hoërskool
- Tegniese Hoërskool Delft
- Rosendal Hoërskool
- Voorbrug Hoërskool
Een van verskeie projekte wat Blue Bus Ministries vir leerders in Delft aanbied is die Suksesklub wat daarop gemik is om akademiese sukses te verbeter. Hulle fokus op beide primêre en hoërskoolleerders en ondersteun ook studente wat tans op universiteit is. Die inisiatief sluit onder meer 'n leesprojek in sowel as ʼn vennootskap met die Universiteit Stellenbosch se Departement Sielkunde en Bedryfsielkunde, wat hierdie leerders help met vakkeusevoorligting.
Die leerders is verwelkom deur Dr. Gillian Arendse, Adjunkdirekteur by die Sentrum vir Studentewerving en Loopbaanadvies. Dr. Arendse het leerders geïnspireer en hulle gemotiveer om die lewe anders te sien en nie toe te laat dat hulle agtergrond hulle toekoms bepaal nie.
Leerders is ook geïnspireer deur huidige studente (van die deelnemende skole). Hierdie studente het hul stories gedeel, veral die belangrikheid daarvan om hard te werk en goeie punte te behaal. Hulle het ook hul reis gedeel ten opsigte van die oorgang van hoërskool na universiteit, die maak van nuwe vriende en hoe dit is om in ʼn koshuis te bly.
Die fokus van die besoek was om leerders met die aansoekproses te help en hulle aan die verskillende moontlikhede by die US bloot te stel - om hulle 'n werklike ervaring te gee van hoe dit is om 'n student aan die Universiteit Stellenbosch te wees.
Leerders het ook die geleentheid gehad om lesings by te woon, 'n kampus toer te doen en middagete en toer by Metanoia-koshuis te geniet.
Kommentaar van leerders wie die dag bygewoon het:
“I thought that teaching was only in Afrikaans, the lecture I attended was conducted in English"
“The university is diverse, the environment is friendly and has easy access to most facilities"
“It's a good university, which has all the necessary facilities that will allow me to be successful in life"
Die meerderheid van leerders het ook aangedui dat hulle die eerste in hul familie sal wees om by ʼn Universiteit te studeer.