Skip to main content
Slim elektroniese watermeters help US om water te spaar

Slim elektroniese watermeters help US om water te spaar

Asiphe Nombewu /Corporate Communication
04 Mei 2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) is besig om die Vierde Industriële Revolusie (4IR) aan te gryp en dra tot die omgewing by deur die installering van slim elektroniese watermeters in akademiese en nie-akademiese geboue.

Die implementering van elektroniese watermeters het 'n besparing van sowat R326 000 en 9 320 kl water in 'n vyf-maande tydperk van 12 Februarie tot 6 Maart 2019  vir die US tot gevolg gehad.

Volgens Johann Bierman van Eiendomsdienste by die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur, is sowat 600 slim elektroniese meters regoor die US se vier kampusse geïnstalleer om vyf-minute monitor-tussenposes 24 uur van die dag, 365 dae van die jaar te verseker.

“Vooruitgang in die 4IR het Fasiliteitsbestuur in staat gestel om doeltreffende nutsbestuur by die US te verbeter ten einde 'n veiliger, skoner en meer bekostigbare hoëronderwysinstelling in Suid-Afrika te wees," sê Bierman.

Bierman voeg by dat water- en elektrisiteitsverbruik in die verlede vir faktuurdoeleindes gemeet is, maar die 4IR is vinnig besig om bedryfsbestuur te verander en dit stel organisasies in staat om groot data deur kunsmatige intelligensie (KI) vas te lê, toegang daartoe te verkry en dit te ontleed.

Die nuwe moniteringsagteware maak die intydse monitering en vaslegging van verbruikersdata moontlik, terwyl die data wat op 'n inligtingspaneelplatform gesien kan word, loodgieters by Fasiliteitsbestuur in staat stel om vinnig te reageer en om lekkasies baie gou te herstel.

“Die inligting op die sagteware word in werking gestel deur liggings met geoutomatiseerde waarskuwings en verslae te skakel wat vinnige intervensies moontlik maak," sê hy.

Volgens Bierman stel verslae en waarskuwings wat outomaties gegenereer word, die US in staat om foute te vind en besparingsgeleenthede aan te dui, en hulle kan dit dan kort daarna met moniteringintervensies opvolg. Bierman sê die onlangs intervensies het aansienlike geldelike besparings tot gevolg gehad en het die uitwerking op die omgewing geminimaliseer.

“Ons bevindinge dui daarop dat die US se slimmeterstelsel baie waardevol is om met doeltreffende nutsbestuur te help," sê Bierman.

Die US het 'n jaarlikse verbetering in waterverbruik getoon en ondanks 'n toename in die aantal studente en tariefstygings, het die instelling daarin geslaag om water én geld te spaar.

Bierman sê die meeste lekkasies op kampus kom weens verouderder loodgieterinfrastruktuur​. Hy sê die kern energiedoelwitte van die US is om koolstofvrystellings te verminder, energiedoeltreffendheid te verbeter en om na hernubare energiebronne oor te skakel.

Die vroeë vasstelling van hoë waterverbruik stel hulle ook in staat om die toepaslike intervensies doeltreffend te implementeer.