
Slaggate – standaarde vir instandhouding moet geïmplementeer word
Slaggate is slegte nuus. Vra enige bestuurder wat duisende rande moes opdok of enige passasier wat ernstig beseer is as gevolg van slaggate wat nie deur padowerhede reggemaak is. Dit kan skade, beserings en sterftes veroorsaak.
Slaggate is waarskynlik die mees sigbare teken van die swak toestand van paaie en dit is duidelik dat standaarde vir instandhouding geïmplementeer moet word, sê dr Louis Roodt van die Departement Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.
Roodt het in sy onlangse doktorsgraad in Siviele Ingenieurswese instandhoudingstandaarde vir slaggate, glyweerstand (skid resistance), los materiaal op die padoppervlak, die sigbaarheid en leesbaarheid van padtekens, bome langs snelweë, en padkantskramrelings (roadside barriers) voorgestel. Hierdie standaarde is baie belangrik vir padveiligheid.
Roodt meen baie van die huidige standaarde is op strukturele instandhouding en verkeer gemik.
Hy sê hoewel die meeste instandhoudingskwessies algemeen is vir landelike en stedelike padnetwerke, fokus hy egter op hoë-spoed paaie in landelike gebiede waar swak instandhouding tot ernstige beserings, sterftes en skade lei.
Roodt verduidelik dat in terme van huidige assesseringsriglyne vir paaie ʼn slaggat as gevaarlik beskou word as die oppervlakafmeting groter as 300 mm (die lengte van ʼn liniaal) en die diepte meer as 50 mm is (nagenoeg ʼn duimlengte) ̶ ʼn sogenaamde ernstigheidsgraad 5-slaggat.
Volgens hom behoort ʼn ernstigheidgraad 3-slaggat met ʼn deursnee van 200 mm en ʼn diepte van meer as 25 mm dadelik reggemaak te word omdat die koste laer sal wees, en veral omdat die verdere insypeling van water agteruitgang kan versnel.
Roodt sê met ʼn padoppervlak-bestuurstelsel word padtoestande gemonitor en word daar verslag gedoen oor die ernstigheidsgraad en voorkoms van slaggate. Padingenieurs prioritiseer dan die instandhoudingswerk wat ten doen stel om die slegste gedeeltes reg te maak. Soms laat hulle egter toe dat slaggate ʼn ernstigheidsgraad van 5 oorskry.
Hoewel dit vir hulle ʼn operasionele besluit is, sê Roodt slaggate behoort vir veiligheidsdoeleindes reggemaak te word wanneer dit ʼn ernstigheisgraad van 3 bereik het selfs al kom dit geïsoleerd voor.
"Vanuit ʼn veiligheidsoogpunt gee die smal wiele van fietse, motorfietse en ligte voertuie ʼn aanduiding van hoe groot en diep slaggate is. Wanneer die slaggat die wiel kan 'sluk', is die risiko vir ʼn gebuigde raam, ʼn pap of gesnyde band hoog. Dit kan ook die voertuig destabiliseer."
"Paaie wat in ʼn goeie toestand is behoort elke twee jaar vir slaggate geïnspekteer te word totdat swak plekke geïdentifiseer is. Gedurende die nat seisoen moet inspeksies maandeliks plaasvind en moet slaggate nie toegelaat word om ʼn ernstigheidsgraad 3 te oorskry nie."
"Provinsiale owerhede het ʼn regsplig om, op grond van sosiale waardes soos vervat in openbare beleid en wetgewing, standaarde vir die instandhouding van paaie te implementeer en om redelike veiligheid vir padgebruikers te verseker."
Roodt glo vas dat paaie behoorlik in stand gehou moet word om dit reg te kry.
Ongelukkig gebeur dit nie gereeld nie weens ʼn gebrek aan kapasiteit om te beplan, onvoldoende begrotings en swak toesighouding op veral middelbestuursvlak, sê hy.
"Baie instandhoudingstandaarde wat vir veiligheid voorgestel word is tans goeie praktyk, maar word nie met dringendheid geïmplementeer nie. Hierdie dringenheid hou verband met owerhede se regsplig om veilige paaie te verseker."
"Dit is eintlik nie so kompleks om paaie in stand te hou nie en die meeste aksies is op arbeid gebaseer en kan help met werkskepping."
Roodt sê aangesien die agterstand in instandhouding bydra tot gevaarlike padtoestande en ongelukke, sal die voorgestelde standaarde in sy doktorale studie help om die toestand van die padinfrastruktuur te kwantifiseer en veiligheidsintervensies te prioritiseer.