
Slaan matriek vir 'n ses – wenke vir jou eindeksamen
Dít is waarvoor jy gewerk het. Twaalf jaar lank.
Die vakansie lê en wink, maar voordat matriekleerders kan ontspan, lê die laaste hekkie van die eindeksamen voor. Volg hierdie wenke om jou deur jou laaste paar weke van matriek te dra:
1. Buigsame skedulering en beplanning
Beplanning is sinoniem met voorbereiding, maar ons almal is nie ewe goed daarmee nie. As roetine vir jou werk, ruim tyd in om neer te skryf wat jy vir elke vak moet leer, en deel dit dan in 'n rooster in. So nie, probeer buigsame skedulering: Besluit wat en hoeveel hoofstukke jy elke dag moet leer, maar wees buigsaam oor WANNEER in die dag jy dit sal doen. Hou in gedagte watter tyd van die dag jy op jou produktiefste is. Gulde reël: HOU by jou skedule/plan, anders is dit 'n nuttelose oefening.
2. Motivering vs selfdissipline
Selfdissipline is jou vriend. Besluit wat gedoen moet word, en DOEN dit dan. Om te wag totdat jy 'gemotiveerd', 'gesentreerd' of 'gefokus' voel, kan onrealisties en onproduktief wees.
3. Goeie slaapgewoontes
Dit is noodsaaklik dat jy genoeg slaap kry – ten minste 6–8 uur per nag. Terwyl jy slaap, stoor jou brein die inligting wat jy geleer het. Daarom is dit selde 'n goeie idee om die vorige nag 'n magdom inligting in jou kop te probeer prop. Neem verantwoordelikheid deur jou leer- en slaaptyd vooraf te beplan. Jy sal sukkel om te slaap as jy van jou brein verwag om vandag 01:00 nog te leer, maar môre 23:00 vaak te wees. Probeer elke aand op min of meer dieselfde tyd bed toe gaan. Laatnagtelike leersessies is nie gesond nie!
4. Voeding
Dink aan ál die voedselgroepe wanneer jy jou etes beplan. Konsentreer op koolhidrate wat energie stadig vrystel, soos hawermout, patat en volgraan-/lae-GI-brood. Sluit gesonde vette (breinkos) soos grondboontjiebotter, neute en sade in, en maak groente en vars vrugte deel van elke ete. Vermy so ver moontlik geprosesseerde/kitskos, suiker, lekkers en energie-/suikerdrankies. Dit jaag net jou bloedsuiker op en maak jou uiteindelik futloos en lus vir slaap. Slim peusel-idees is appelskywe met grondboontjiebotter, kekerertjies, hardgekookte eiers, neute of jogurt. Bly gehidreer deur ten minste twee liter water per dag te drink. Verruil jou tweede koppie koffie vir rooibostee. Wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch het bevind dat rooibostee stres kan verminder danksy twee seldsame antioksidante (aspalatien en notofagien), wat die produksie van die streshormoon, kortisol, verhinder.
5. Sê ander van jou skedule
Vertel jou ouers en familielede wanneer jy beplan om te studeer sodat niks jou aandag aflei nie. Hulle kan jou selfs by jou rooster help hou.
6. Oud, maar nog nie koud
Ou vraestelle is 'n waardevolle hulpmiddel. Laat genoeg tyd oor nadat jy deur al jou werk is om na vorige eksamenvrae te kyk. Sodoende kan jy jou kennis toets en sommer ook 'n idee kry van hoe die vrae gestel kan word.
7. Ontspan, herlaai, kuier en oefen
Jy KAN in die eksamentyd kuier – dis goed vir jou geestesgesondheid – maar skeduleer kuiertyd vooraf, en hou daarby. Ruim ook ten minste 20 minute per dag in om jou litte te roer. Oefening verbeter konsentrasie en inligtingsinname. Boonop help dit jou lekkerder slaap én stres hanteer. Sorg dat jy gedurende die eksamen tyd maak om na jouself om te sien: As jy net op jou akademie konsentreer, sal jy voor die einde van die eksamen uitbrand.
Mag jou jaareindeksamen rustig en 'n reusesukses wees.
Mari O'Reilly Voorligtingsielkundige, Universiteit Stellenbosch