
Sitrus: Meer fokus op windlanings nodig
In die laaste helfte van die jaar kan die Wes-Kaap se suidoostelike winde baie skade aanrig aan jong mandaryn-vrugte, omdat dit saamval met die eerste 12 weke na vrugset. Wanneer die wind meer intens raak tussen Oktober en Desember kan dit tot 87% van die windskade wat in 'n seisoen ondervind word, veroorsaak. Indien dit egter korrek bestuur word, kan geskikte windbreke of ander vorme van beskerming teen wind sulke verliese verminder, en lei tot 'n groter hoeveelheid uitvoergehalte vrugte. So reken junior navorser mnr. Heinrich Geldenhuys, wat in April 2022 'n MSc-graad in Hortologie van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het oor die onderwerp.
Sedert hy sy studies voltooi het, het hy aangesluit by Citrus Research International as 'n navorsingtegnikus, en behou steeds bande met die US Departement Hortologie.
Oor die waarde van sy MSc-studie, sê Geldenhuys: “Baie van wat ons weet van die impak van windbreke en hul nut, veral in die Wes-Kaap, is laas in die vroeë 2000's nagevors. Die bedryf het natuurlik sedertdien baie ander kwessies gehad om in terme van navorsing te oorweeg, soos hoe om valskodlingmot te beheer en hoe om alternatiewe drag te verhoed. Windbreke is egter nie 'n onderwerp wat 'n mens sommer net kan ignoreer nie, want hul korrekte gebruik kan vrug-kwaliteit verbeter en produsente se winsgrense verhoog."
Van Geldenhuys se bevindinge is onlangs in die vaktydskrif Erwerbs-Obstbau (Springer) gepubliseer.
Mandaryne
Sy studie is uitgevoer op 'Tango' mandaryn (Citrus reticulata) boorde in Stellenbosch, waar “Beefwood" (Casuarina cunninghamiana) en Chinese populier (Populus simonii) geplant is as windlanings, op verskillende afstande van die sitrusbome.
“Die jaareind-winde, net na vrugset, is meer skadelik as wind wat in Julie en Augustus ervaar word, wanneer laat-mandaryne gewoonlik geoes word," noem Geldenhuys.
Hy het onder meer bevind dat klein, onvolwasse mandaryn-vrugte uiters vatbaar is vir windskade, en dus maklik kosmetiese letsels vertoon.
Geldenhuys sê dat hoewel wind die voorkoms van sitrus opmerklik kan beskadig, sy studies het getoon dat dit baie selde 'n invloed het op die eet-kwaliteit daarvan. In die meeste gevalle affekteer dit nie die opbrengs en produksie van sitrusbome noemenswaardig binne 'n boord wat omring is met windskerms nie.
Bome as windbreke verskaf nie eenvormige beskerming vir 'n hele boord nie, merk Geldenhuys op. Hul effektiwiteit hang af van die hoogte van die windskerm, hoe digbegroeid dit is, en die windspoed.
Gedurende sy studies is die hoogste persentasie van Klas 1-vrugte (uitvoergehalte) geoes vanaf bome wat die naaste aan die windlanings gegroei het. Bome in die middel van die boord het meer letsels op hul vrugskille gehad.
“In die praktyk kan windskerms nie op die ideale afstand van 50m intervalle geplant word vir maksimum wind-beskerming nie, want dit sal beteken dat waardevolle produksie-ruimte verlore gaan, saam met direkte kompetisie tussen bome vir sonlig, voedingstowwe en water," verduidelik hy.
Windskerms of skadunet?
Geldenhuys se bevindinge bevestig dat wind 'n impak het op eksterne vrug-kwaliteit, en dat afstand vanaf die windskerms 'n invloed het op die mate van beskerming wat dit die boorde kan bied. Dit ondersteun gedeeltelik die huidige neiging om boorde ten volle te bedek met skadunette.
Geldenhuys meen dat hierdie neiging sy voordele en nadele het: “Baie produsente verkies deesdae skadunet weens die uitsonderlike uitpakkoers, alhoewel dit meer as 'n paar sent kos om te installeer. Boonop is die langtermyn impak van die gebruik van nette op 'n plaas se koolstof- en plastiek-voetspoor nog nie duidelik nie."
Bestuur van windskerms
Geldenhuys waarsku dat produsente die bome wat in windlanings groei onderhoud en voortdurende bestuur nodig het om optimaal te funksioneer. Indien dit gedoen word, kan produsente groter volumes vrugte van uitvoer-kwaliteit verwag.
Van sy raad wat dit betref is:
* Verseker dat daar geen ooglopende gapings is tussen windskerm-bome nie. Herplant nuwe bome onmiddellik waar een dalk dood is.
* Snoei digte windskerms om genoegsame lugvloei toe te laat om sodoende baie hoë wind-spoed en onstuimige lugvloei in die middel van die boord te verminder.
* Verwyder dooie takke en lang lote wat skaduwee in die boord veroorsaak, om kompetisie vir sonlig te verminder.
* Oorweeg wortel-snoei, aangesien dit voordelig kan wees vir windskerm-spesies soos Casuarina wat neig om mee te ding met aanliggende vrugtebome.
Geldenhuys, afkomstig van Ceres, sê sommige van sy bevindings sal ingesluit word in 'n nuwe boek, “Windbreaks in modern agriculture and horticulture" wat tans geredigeer word deur sy MSc-studieleier, dr. Elmi Lötze ('n buitengewone senior lektor in die Departement Hortologie aan die US, en van Agri Technovation, South Africa) en dr. Maik Veste (CEBra-Centre for Energy Technology; Universiteit van Tegnologie Cottbus-Senftenberg, Duitsland).
Verdere navorsing
Geldenhuys se navorsingsprojek het deel gevorm van 'n groter FarmImpact projek wat deur die Federale Departement Opvoeding en Navorsing in Duitsland befonds en deur dr. Veste gelei is.
Dr. Veste se FarmImpact-span, tesame met US-navorsers, ondersoek tans of plaaslike boomspesies geplant kan word as alternatiewe windbreke.