
Simposium: Gesprekke oor klein, medium en mikro-grootte ondernemings
Klein, medium en mikro-grootte ondernemings (KMMO's) speel 'n belangrike rol in Suid-Afrika, maar sal nie sonder beleid- en/of strukturele verandering die aantal of soort werksgeleenthede skep wat die regering verwag nie.
Dit was die gevolgtrekking van die programrede deur prof Neil Rankin van Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Ekonomie by 'n simposium wat gemik is op die instellings en individue wat aktief in KMMO-ontwikkeling betrokke is.
Die simposium is aangebied deur die US se Departement Ondernemingsbestuur in samewerking met die Universiteit van Uppsala in Sweden, en is geborg deur die Tore Browaldh-stigting.
Die hoofdoel was om 'n dieper en beter begrip van die brandende kwessies in die KMMO-sektor te ontwikkel om sodoende hierdie kwessies aan te spreek en riglyne vir die pad vorentoe te weeg te bring.
Prof Rankin het die belangrikheid van 'n dinamiese KMMO-sektor vir werkskepping en ekonomiese groei beklemtoon.
"Die KMMO-sektor verskaf belangrike soorte werksgeleenthede – onder meer vir jong mense, ou mense en minder geskoolde arbeid. Dit skep 'n geleentheid om tot die arbeidsmark toe te tree en is 'n belangrike vervoerband vir vaardighede in die ekonomie.
"Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) voorsien dat die grootste getal nuwe werksgeleenthede in die ekonomie deur KMMO's geskep gaan word. Die vlak van indiensneming in KMMO's is egter laer as wat ons gedink het en Suid-Afrika het minder KMMO's as wat dit behoort te hê. In soortgelyke ekonomieë is die bydrae van KMMO's tot die ekonomie dubbel."
Hy het die stygende koste van elektrisiteit en lone en 'n gebrek aan diversiteit in die mark as van die probleme uitgewys.
"Ons het 'n omgewing geërf wat gunstig is vir groot besighede en enige regulasie met vaste koste-implikasies raak kleiner besighede meer as groter besighede."
Prof Rankin het genoem dat daar baie min erkenning van die regering is dat hierdie situasie moet verander.
Prof Gert Human, lektor in strategiese bestuur aan die US, het namens prof Per Lind van die Departement Ondernemingsbestuur aan Uppsala Universiteit 'n aanbieding gelewer. Dit het uit 'n internasionale perspektief na KMMO's gekyk en het ook die konsentrasie van mag in groot maatskappye en 'n gebrek aan ekonomiese diversiteit as struikelblokke vir KMMO's geïdentifiseer.
Hy het die vraag gevra: "Hoe berei ons mense voor vir entrepreneurskap? Organisasies en maatskappye in Suid-Afrika is onderhewig aan plaaslike norme en waardes en Amerikaanse of Europese modelle is dus nie noodwendig van toepassing nie.
"Ons moet genuanseerde programme en inisiatiewe ontwikkel om verskillende individue te teiken – diegene wat gedwing is om vir hulself te werk om te oorleef asook diegene wat die vaardighede en hulpbronne beskikbaar gehad het om 'n nuwe besigheid te begin. Ons het 'n gedifferensieerde benadering nodig – een grootte pas nié almal nie."
Awie Vlok, 'n doktorale kandidaat en lektor aan US wat spesialiseer in innovasie, het die bevindinge van sy studie oor innoverende leierskap in Suid-Afrika aangebied.
"Ons hou aan om oor die beduidende rol van innovasie in KMMO's te praat, maar hoe lyk die leier wat dit moontlik maak?" vra hy.
Komplekse probleemoplossingsvaardighede, 'n vermoë om krities te dink en kreatiwiteit is van die belangrikste vaardighede wat hierdie leiers behoort te hê, het hy geïdentifiseer.
Goosain Solomon, 'n doktorale kandidaat en lektor aan US wat spesialiseer in entrepreneurskap en kleinsakegroei en -ontwikkeling, het sy bevindinge aangebied oor 'n sake-inkubasiestudie wat op die belangrikheid van seleksie fokus.
Hy het die waarde, bydrae en uitdagings van sake-inkubators bespreek en gesê Suid-Afrika bly agter op hierdie gebied.
"Ons sal 'n reusesprong moet gee of die status quo moet aanvaar. As ons egter die status quo aanvaar, gaan ons agterbly."