Skip to main content
SAMNR-toekenning bied dr Ohajunwa toegang tot kennis en veerkragtigheid van inheemse gemeenskappe

SAMNR-toekenning bied dr Ohajunwa toegang tot kennis en veerkragtigheid van inheemse gemeenskappe

FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
05 Mei 2022

​Toe sy gedurende die Covid-19-pandemie die gebeure wêreldwyd rakende inperkings en ander beperkings gevolg het, kon dr Chioma Ohajunwa, ʼn na-doktorale genoot by die Sentrum vir Gestremdheid en Rehabilitasiestudies aan die Universiteit Stellenbosch (US), nie ophou wonder hoe die situasie Afrika se inheemse gemeenskappe raak nie. 

“Covid-19 was ʼn tyd van wêreldwye verwarring; nasies het gesukkel om hierdie verskynsel te begryp en inheemse gemeenskappe moes ook sin van die situasie maak." 

Ohajunwa het die bietjie beskikbare navorsing oor die impak van Covid-19 op inheemse gemeenskappe wêreldwyd begin lees en het selfs minder literatuur oor landelike en inheemse gemeenskappe in Afrika gevind. “Ek het met ʼn kollega wat ook ʼn tradisionele geneser is en met ander gemeenskapslede begin gesels oor hoe Covid-19 binne verskillende gemeenskappe benader is. 

“Pamflette oor Covid-19 is versprei en die regering, gesondheidsorgwerkers, inheemse leiers en radio-uitsendings het inligting probeer verskaf, maar wat het dit beteken vir die rituele en inheemse praktyke wat die lewensbloed van hierdie gemeenskappe is en wat van deurslaggewende belang vir hul welstand is? Talle rituele in hierdie gemeenskappe, soos begrafnisse, word as ʼn kollektief uitgevoer. Die gemeenskap wat byeenkom, het groot betekenis. Die beperkings van Covid-19 het beteken hulle kon dit nie doen nie en dat hulle op die een of ander manier in die aangesig van die pandemie veerkragtigheid moes bou en innoverend moes raak." 

Dit was hierdie belangstelling in die strategieë wat inheemse gemeenskappe gebruik het om die Covid-19-situasie die hoof te bied wat Ohajunwa laat besluit het om navorsing oor die onderwerp te doen. 

“Ek het belang gestel in hoe inheemse gemeenskappe oor die afgelope twee jaar ʼn manier gevind het om sin van Covid-19 te maak en op die behoefte aan welstand gereageer het," het sy in ʼn onderhoud gesê. 

Dit is hoekom Ohajunwa verheug was toe sy onlangs gehoor het sy het ʼn toekenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) ontvang om ʼn studie oor juis hierdie onderwerp te doen. Sy sal op die inheemse Thamarha-gemeenskap aan die buitewyke van King William's Town in die Oos-Kaap fokus.   

Dié toekenning ter waarde van R300 000 oor drie jaar is vir haar navorsingsprojek “Ukulungisa (om balans te vind) in die tyd van die Covid-19-pandemie: Ervarings van kultuur, veerkragtigheid en welstand in ʼn inheemse Xhosa-gemeenskap in Suid-Afrika". Sy het boonop finansiering ter waarde van R610 000 oor twee jaar van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se Na-doktorale Innovasiefonds ontvang. 

“Die toekennings is so tydig. Die sameloop is perfek. Ek is so dankbaar." 

Ohajunwa, wat in Nigerië gebore is, doen al geruime tyd navorsing oor inheemse Afrika-kennisstelsels en die interaksie daarvan met spiritualiteit, gestremdheid, onderwys en welstand. Haar huidige projek gaan oor veranderinge in die verstaan van gestremdheid in ʼn nagraadse program. Sy doen ook navorsing oor inklusiewe onderwysbeleide in Afrika uit ʼn kritiese perspektief. 

Sy het gesê sy voel bevoorreg om hierdie wonderlike geleentheid gegun te word om saam met hierdie gemeenskap te werk aan ʼn kwessie wat hulle en haar na aan die hart lê. 

Volgens Ohajunwa het haar studie ten doel om die verstaan van welstand in die inheemse Xhosa-gemeenskap van Thamarha te ondersoek; die impak van die Covid-19-pandemie op kulturele en spirituele uitdrukking binne hierdie gemeenskap te bekyk; en om geïdentifiseerde hulpbronne en strategieë te beskryf om ʼn riglyn te ontwikkel vir volhoubare, kultureel kongruente en kontekstueel relevante gesondheidsorgsteun vir inheemse Afrika-gemeenskappe in tye van gesondheidskrisisse. 

Sy meen daar is ʼn rykdom kennis in inheemse Afrika-kennisstelsels. “Dit is van kardinale belang dat Afrika-kosmologie en -filosofieë uit die kantlyn van die hoofstroomlewe verskuif word. As ons mense, hul geskiedenis en hoe hulle leef marginaliseer, het dit ʼn impak op hul welstand en op dié van toekomstige generasies." 

Sy het die NNS en die SAMNR bedank vir die geleentheid wat hulle haar bied. Voorts het sy haar dank vir hul ondersteuning uitgespreek teenoor onder andere God, haar gesin, die inheemse geleerdes hoofman Patisile Fudumele, Fanyana Juju, Nobhejile en opperhoof Nobangile en die mense van hul gemeenskappe, die akademikus en inheemse geneser Thando May, asook haar Afdelingshoof, prof Gubela Mji.