Skip to main content
SA is wêrelduniversiteite-netbalkampioen

SA is wêrelduniversiteite-netbalkampioen

Maties Sport
18 Julie 2016

Twee Maties was deel van die Suid-Afrikaanse span wat Sondag (17 Julie) in Miami as kampioen van die Wêrelduniversiteite-netbaltoernooi gekroon is.

Die span het Jamaika 43-39 in die finaal geklop.

Juline Rossouw en Charmaine Baard was baie opgewonde oor hul span se naelskraap-oorwinning.

"Ons is baie gelukkig," het Charmaine Sondagaand gesê, terwyl Juline bygevoeg het dat dit 'n "moeilike en fisieke wedstryd" was.

Sy het die toer as 'n ongelooflike ervaring beskryf en gesê dit was wonderlik om die oorwinning te kon behaal.

Suid-Afrika het ook die VSA (93-18), Namibië (74-30), Trinidad & Tobago (63-26), Engeland (71-30) en Uganda (52-42) geklop.

Juline, 'n oudleerder van Paarl Gimnasium, en Charmaine, 'n oudleerder van Hoërskool Brackenfell, is albei Onderwysstudente – Juline in haar vierde jaar en Charmaine in haar derde jaar.

Juline is vroeër vanjaar by die oefengroep ingesluit terwyl Charmaine later ingesluit is toe van die spelers in die groep beseer is. Hulle het Sondag, 10 Julie, na die VSA vertrek.

Die spelers sal nou met hul tuiskoms hul fokus na die komende Varsity Netbaltoernooi verskuif.